Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bok-slot se ouers in Japan gestrand

Ivor en Karin Jenkins, ouers van die Springbok-slot Jason Jenkins, is in Japan gestrand nadat die staat van inperking in Suid-Afrika in werking getree het.

Ivor en Karin het op 13 Maart in Japan geland vir ’n vakansie van twee weke.

“Ons het beplan om twee van Jason se rugbywedstryde hier te gaan kyk. Japan se topligawedstryde is egter gekanselleer weens die virus. Ons kon dus nie sy wedstryde gaan kyk het nie,” het Ivor aan Netwerk24 vanuit Japan gesê.

Jenkins speel sedert 2017 vir Toyota Verblitz in die topliga in Japan. Hy het in 2018 in een toets vir die Springbokke gespeel in hul wedstryd teen Wallis in Amerika. Hy het tevore vir die Bulle gespeel.

Ivor en Karin Jenkins in ’n restaurant in Japan. Hulle is gestrand in dié land en kuier intussen by hul seun, Jason Jenkins.

“Deel van ons planne was ook om die berg Foedji, Hirosjima en Tokio te besoek. Japan is nie onder inperking nie en ons kon darem na toeristeaantreklikhede gaan,” sê Ivor.

Hy sê hy en sy vrou sou op 30 Maart na Suid-Afrika terugkeer.

“Ons het probeer om vroeër ’n vlug te kry nadat die inperking in Suid-Afrika afgekondig is. Die vlugte was ongelukkig reeds vol bespreek. So nou sit ons in Japan vas.”.

Hulle gaan tans by Jenkins in die stad Nagakoete tuis.

Ivor was sedertdien met die Suid-Afrikaanse departement van internasionale betrekkinge en samewerking en die Suid-Afrikaanse ambassade in Japan in verbinding.

“Ons het hulle ingelig dat ons in Japan gestrand is, maar dat ons darem nie in die moeilikheid is nie. Ons eet en ons lewe,” sê hy.

Hoewel Ivor en Karin terugverlang na hul tuisland, geniet hulle die tyd saam met hul seun.

“Ja, ons wil graag terugkeer, maar daar is mense met groter probleme as ons wat eerste prioriteit moet kry. Ons sal nie daarop aandring dat die regering ons eerste moet help nie. Ons wag vir ons beurt,” sê Ivor.

Om hulself besig te hou gaan stap Ivor en Karin elke dag sowat 8 km en hulle sien daardeur baie van die Japannese landskap.

“Ons gaan sit baie in parkies en sien hoe die kultuur hier is. As ons by die huis is, bou ons legkaarte en lees,” sê Ivor.

Hulle hoop om teen 21 April huiswaarts te kan keer indien die reisbeperkings en die staat van inperking in Suid-Afrika teen daardie tyd opgeskort is.

“Emirates het ons laat weet hulle beoog om hul vlugte (na Suid-Afrika) op 20 April te hervat, sou die staat van inperking hier opgeskort wees. Ons sien daarna uit om weer op ons eie stoep by die huis te sit.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.