Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Bok-stryd sal droom wees wat waar word’

Die kans om teen sy geboorteland en ook teen Faf de Klerk, een van die voorste skrumskakels ter wêreld, te speel, sal vir hom ’n hengse eer en baie spesiaal wees.

Ruben de Haas in aksie in Amerika se Wêreldbeker-wedstryd teen Argentinië in 2019 in Kumagaya, Japan. Foto: Getty Images

So sê Ruben de Haas, die Cheetahs se skrumskakel van Amerika, oor die vooruitsig van ’n toetswedstryd tussen die Eagles en die Springbokke.

Die Eagles se afrigter, Gary Gold, het vandeesweek onthul hulle kan voor die Bokke se reeks teen die Britse en Ierse Leeus in Suid-Afrika of in Brittanje ’n toets teen hulle speel.

“Ek het gesien wat coach Gary gesê het van die toets wat ons dalk teen die Bokke gaan speel,” sê De Haas.

Hulle het nog nie enige instruksies van Gold af ontvang nie.

Hy wys daarop dat Amerika, soos die Bokke, weens die Covid-19-pandemie sedert die Wêreldbeker-toernooi in Japan nog nie weer in aksie was nie. Om net weer sy Amerikaanse trui aan te trek en teen die Bokke uit te draf, sal vir hom ’n droom wees wat bewaarheid word.

“Dit sal so ’n spesiale geleentheid wees om teen die Bokke te kan speel. Dis uiteraard die land waarin ek gebore is en grootgeword het.”

Die 22-jarige De Haas was 10 toe sy ouers na Amerika geëmigreer het.

Hy het in sy 17 toetse tot dusver al teen ’n paar van die wêreld se vername rugbylande gespeel, soos Ierland, Engeland, Frankryk en Argentinië, maar om dalk nou teen sy geboorteland te speel, sal vir hom ’n groot eer en voorreg wees.

Om hom dalk te kan meet teen iemand soos De Klerk sal vir hom net so besonders wees.

“Ek het nog nooit teen Faf gespeel nie en dit sal vir my ’n hengse eer wees om teen hom te kan speel. Hy is uiteraard een van die beste nommer-neges in die wêreld.”

De Haas het in Februarie 2018 as tiener sy toetsbuiging vir Amerika teen Chili in die Amerikas-rugbykampioenskap gemaak.

’n Toets teen Samoa in November daardie jaar in Spanje was sy eerste in die Eagles se beginspan.

Sy oupa Gerard het vir die Vrystaat en Noord-Transvaal gespeel en sy pa, Pieter, vir die Vrystaat, Transvaal en Noord-Transvaal.

Die jong De Haas is intussen nog vir die Cheetahs beskikbaar. Hy moet eers teen die middel van die jaar aanmeld by Saracens ín Engeland, waar hy sy loopbaan gaan voortsit.

Meer oor:  Cheetahs  |  Vsa  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.