Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
'Engeland het my beter gemaak'
Vincent Koch het skitterend gespeel in die Bokke se toets teen Argentinië op Loftus Versfeld. Foto: Gallo Images

In 2015 het Heyneke Meyer die ongelukkiges in ’n kamer ingeroep en een vir een die hartseer nuus met hulle gedeel: Jy het nie die groep vir die Wêreldbeker-toernooi in Engeland gehaal nie.

Onder hierdie groepie was die stut Vincent Koch. Hy is toe oorsee om sy rugbyheil by Saracens in Engeland te soek.

Die 29-jarige vaskop moes twee jaar gelede boonop hoor hy kan weens die 30-toets-reël nie meer vir die Bokke speel nie.

Daarom is hy bitter dankbaar teenoor Rassie Erasmus, die Bok-breier, vir die tweede lewe wat hy nou by die nasionale span gekry het.

Twee jaar terug kon ek nie meer vir die Bokke speel nie. So ek het nie gedink ek gaan hier wees nie.
Vincent Koch

“Twee jaar terug kon ek nie meer vir die Bokke speel nie. So ek het nie gedink ek gaan hier wees nie,” het hy gesê pas nadat hy by die Bokke se groep vir die WB-toernooi in Japan ingesluit is.

Die Engelse het van hom ’n beter speler gemaak, verklaar hy onomwonde.

“Ek het oorgegaan na Engeland om ’n beter speler te word. In die Noordelike Halfrond is daar meer skrums en hulle fokus baie meer op die vaste fasette.

“Saracens is ’n fantastiese klub. Hulle het my gehelp om my werksetiek te verbeter. Ek is nou baie beter weg van die bal af, met daardie klein dinge wat mense nie juis raaksien nie.”

Steven Kitshoff het hom met stewige skrumwerk en goeie spel in die vastelos waarskynlik nou as die Springbokke se voorkeur-loskopstut gevestig.Foto: Gallo Images

Die vyf stutte in die Bok-groep is Koch, Trevor Nyakane, Frans Malherbe, Beast Mtawarira en Steven Kitshoff.

Onder dié vyf is die eersgenoemde drie vaskoppe en die laaste twee loskoppe. Nyakane sal egter as die sogenaamde “swinger” dien, ’n stut wat aan albei kante kan sak indien nodig.

Koch het ook ervaring in die nr. 1-trui, maar sê hy vermoed Nyakane sal liewer daar uithelp as die nood druk.

“Trevor het meer ervaring op loskop as ek. Hy is die gunsteling om aan albei kante te sak, want hy het verlede jaar nog loskop gespeel. Ek het ses jaar terug laas loskop gespeel,” sê hy.

Die voormalige Bok-stut Ollie le Roux, wat op sy dag nr. 1, 2 én 3 kon speel, sê dit is deesdae nie meer so belangrik om ’n swinger op die bank te hê nie, aangesien spanne nou twee plaasvervangerstutte kan kies. Voorheen kon spanne net een stut en een haker as reserwes kies.

“Ek verkies dus altyd ’n spesialis, maar dit is altyd goed as jy baie ouens in jou groep het, wat kan vaskop speel.”

Le Roux sê Erasmus het raakgevat met die groep stutte wat hy saamvat Japan toe.

“Die enigste ou wat ek dink baie ongelukkig kan voel, is Thomas du Toit.

“Vincent Koch is ’n uitstekende stut, dieselfde geld Frans Malherbe. Wilco Louw kan ongelukkig voel, maar sy tyd sal nog kom.”

Vincent Koch is ’n uitstekende stut, dieselfde geld Frans Malherbe. Wilco Louw kan ongelukkig voel, maar sy tyd sal nog kom.
Ollie le Roux

Hy het sy vreugde uitgespreek oor die goeie rugby wat Nyakane vanjaar speel.

“ ’n Stut moet lyk soos ’n kleinhuisie – hy moet ’n blok wees. Trevor lyk so. Trevor lyk sommer soos ’n rugbyspeler en hy is sterk.

“Hy toon nog altyd belofte, so dit is goed dat hy daardie belofte nou gestand doen.”

Le Roux sê stutte raak beter met tyd. Daarom het Nyakane en Koch nou wasdom begin bereik.

“Jy kry nie iets soos ’n goeie jong stut nie. Jy kry net goeie ou stutte, want hulle moet eers ’n bietjie gemoer word!”

Meer oor:  Frans Malherbe  |  Vincent Koch  |  Trevor Nyakane  |  Suid-Afrika  |  Japan  |  Wb-Toernooi  |  Springbokke  |  Wereldbekerrugby  |  Stut
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.