Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Springbok-toets teen Japan bevestig

Die Springbokke gaan hul grootste Wêreldbeker-nagmerrie aan die vooraand van volgende jaar se skouspeltoernooi herleef, met ’n opwarmingswedstryd teen Japan, in Japan, op 6 September.

Die toets, waarin die Bokke sal poog om die spook van Brighton te besweer, word gesien as die Springbokke se laaste kans om hul wedstrydplan te verfyn voor hul groot openingswedstryd van die Wêreldbekertoernooi teen die All Blacks in Yokohama op 21 September.

Karne Hesketh druk Japan se wendrie by die Wêreldbekertoernooi in 2015, met JP Pietersen te laat om te keer. Foto: GetTy IMAGES

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) sal dié toets vandeesweek bevestig. Dit sal die eerste keer wees sedert die groot Wêreldbeker-skok van 19 September 2015, toe Japan die Bokke met 34-32 geklop het, dat dié twee lande kragte meet.

Die Springbokke sal bykans ’n maand lank in Japan wees voordat die Wêreldbekertoernooi begin. Hulle sal dus al lankal geakklimatiseer wees wanneer die ander spanne daar aankom.

Die toets teen Japan word gespeel twee weke voordat die Bokke die All Blacks aandurf en Suid-Afrika sal daarna in Japan aanbly om vir die toernooi voor te berei. Dit sal nie sin maak om die lang pad terug Suid-Afrika toe aan te durf, net om ’n week later weer op die vliegtuig te klim nie.

Daar word ook verwag dat die Springbokke ’n paar dae voor dié toets in Japan sal wees, wat hulle met drie weke sal laat voordat die toernooi afskop.

Die Springbokke sal altesaam vyf toetse speel voor die begin van die WB-toernooi. Daar sal ook verskeie voorbereidingskampe gedurende die seisoen wees. Dit moet nog gefinaliseer word.

Die besluit om Japan aan te pak, kan van groot sielkundige waarde vir die Springbokke wees, veral as hulle daarin slaag om die spook van Brighton te verjaag.

Die Springbokke se voorbereiding vir die Wêreldbeker sal anders wees as dié van enige ander span, met die klem op die spelpeil wat die Bokke vanjaar teen die All Blacks in Wellington en op Loftus Versfeld gewys het.

Wallis het vandeesweek aangekondig hy sal twee oefenkampe in die berge vir voorbereiding gebruik. Al die Britse spanne het die Sesnasiesreeks, asook vier vriendskaplike wedstryde in Junie, om hulle vir Japan voor te berei.

Dit sal dié lande baie tyd gee om hul wedstrydplanne te slyp, terwyl die Suidelike Halfrond nog met die Superrugby-reeks besig is.

Die Suid-Afrikaanse Superrugby-spanne sal ook te werk gaan met die oog op die Wêreldbeker-toernooi. Daar word hard agter die skerms gewerk tussen die Bok-bestuur en die Super-afrigters om te verseker die Springbok-kandidate word volgende jaar goed bestuur.

Met ’n verkorte Rugbykampioenskap sal die Springbokke slegs een keer teen Nieu-Seeland, in Wellington, en Australië, in Johannesburg speel, terwyl hulle Argentinië twee keer sal aandurf – een keer in Argentinië en een keer op Loftus Versfeld voor die wedstryd teen Japan.

Meer oor:  Springbokke  |  Wêreldbeker-Toernooi  |  Japan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.