Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bok-toetse kan nou in buiteland gespeel word

Die Springbokke teen die All Blacks in Timboektoe.

Saru se uitvoerende hoof, Jurie Roux. Foto: Gallo Images

Nee, nog nie, maar die weg vir Suid-Afrika om, teen die regte prys, van sy tuistoetse in die buiteland te speel, is Donderdag op die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se jaarvergadering in Nuweland gebaan.

“Ons het ’n redelike groot grondwetlike verandering deurgekry waar ons kan besluit om tuistoetse in die buiteland te speel indien dit kommersieel sou sin maak,” het Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof, aan Netwerk24 gesê.

Voor Donderdag se wysiging van die grondwet was dit ’n vereiste dat alle Springbok-wedstryde gespeel word in ’n stadion wat deur ’n provinsiale unie beheer of goedgekeur word. Daar is egter nou bygeskryf dat die wedstryde ook gespeel kan word in ’n “alternatiewe, kommersieel lewensvatbare stadion soos bepaal deur die uitvoerende raad (van Saru) ná raadpleging met die franchise- en niefranchise-komitee”.

Daardeur word die weg egter nie vir provinsiale unies gebaan om nie in sulke besluite geken te word nie. Dis ook onwaarskynlik dat die Kaapstad-metro nou bemagtig sal wees om Bok-toetse van Nuweland na die Kaapstad-stadion toe weg te rokkel.

“Dis ’n komiteebesluit en daar kan om goeie redes besluit word dat ’n toets in die Kaapstad-stadion gespeel word en nie op Nuweland nie. Die WP is egter deel van die komitee en ek sal graag wil sien hoe dit deur ’n komitee goedgekeur word waarvan hy deel is. Ek dink nie dis realisties nie,” sê Roux.

“Ek dink nie die unies gaan om ’n tafel sit en mekaar regstreeks benadeel nie.”

Terwyl dit plaaslike ondersteuners dwars in die krop kan steek indien die Bokke byvoorbeeld buite Suid-Afrika teen die All Blacks speel, meen Roux dis ’n kwessie van die regte balans vind.

“As jy elke vier jaar dalk die All Blacks oorsee moet pak in belang van Suid-Afrikaanse rugby en die inkomste wat jy kan kry, moet jy dit opweeg teen die nadelige uitwerking op toeskouers. Die moeilike vraag is altyd waar die balans lê,” sê Roux.

“Indien jy dit egter op ’n rotasiegrondslag doen en dis ver vooruit beplan, dink ek dit sal aanvaarbaar wees.”

Saru is ook in ’n posisie om ver vooruit te beplan.

“Wêreldrugby se toetskalender is tot 2032 vasgestel. Met die uitsondering van wedstryde teen die kleiner nasies, weet ons teen wie ons gaan speel. Saru moet nou gaan sit en beplan om die toekenning van toetse vir die volgende paar jaar vas te stel,” sê Roux.

Roux was meestal aan die woord op die vergadering met Mark Alexander, die president, in die agtergrond. Dit was in skrille kontras met die bestuurstyl van Alexander se voorganger, Oregan Hoskins.

Alexander het wel die openingsrede gelewer, waar hy onder meer onthul het dat Saru se werknemers weens die beheerliggaam se finansiële probleme nie ’n verhoging gekry het nie.

Terwyl provinsies konsensus oor al die punte op die agenda bereik het, was die unies van die Oostelike Provinsie en die Grens weens die feit dat hulle onder likwidasie is, nie stemgeregtig nie.

Soos sake staan, kan dit hul toekoms nadelig raak indien daar besin word oor watter Suid-Afrikaanse span, of spanne, uit die Superreeks gesny gaan word.

Sanzaar, die beheerliggaam van die reeks, gaan eersdaags uitspraak lewer oor hoeveel spanne in die reeks gaan speel, asook die indeling vir elke land.

Die laaste sê oor watter Suid-Afrikaanse streke gaan deelneem, lê by die hoofraad, wat uit die 14 unies bestaan.

’n Woordvoerder van Saru sê die volgende vergadering van die hoofraad is eers vir Augustus geskeduleer. ’n Spesiale vergadering kan wel voor dan geroep word om die kwessie op die spits te dryf.

Meer oor:  Toetse  |  Bokke  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.