Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bok-tokkelok wil Engelse hel gee

Hy moes in die harwar van ’n toetsweek boonop ’n teologie-eksamen aflê, maar as dit van die Springbok-skrumskakel, Ivan van Zyl, afhang, gaan hy die Engelse al hulle hel gee op Twickenham.

Ivan van Zyl het vandeesweek in Londen min tyd vir ontspanning gehad. Foto: Gallo Images

Van Zyl is in die beginspan gekies vir Saterdag se toets teen die Rose en dit is die belangrikste wedstryd nog in die 23-jarige aspirant-dominee se jong loopbaan.

Daar word in die Bok-kamp gehoop hy slaag albei toetse met onderskeiding – die een wat hy Woensdag aanlyn moes skryf én die een wat teen Engeland wag.

Skrumskakel is een van die posisies waar die Springbok-breier, Rassie Erasmus, nog sy rangorde moet bepaal en Van Zyl kan hom met ’n blink vertoning stewig vestig agter die huidige eerste keuse, Faf de Klerk.

Sy Bulle-spanmaat Embrose Papier en die Haaie se kaptein, Louis Schreuder, is die ander skrumskakels op toer, terwyl daar sprake is dat Cobus Reinach, wat in Engeland vir die Northampton Saints speel, op bystand is.

Dawie de Villiers lei die Springbokke op die veld in sy speeldae. Foto: Argief

Papier het die begaafdheid om die volgende George Gregan te word, maar hy kan en behoort mettertyd met meer vryheid te speel as wat in die Rugbykampioenskap die geval was.

Maar Saterdag op Twickenham is dit Van Zyl se kans om te beïndruk en Erasmus is vol vertroue dat hy takties ’n bate sal wees, ongeag wat die weer inhou.

Erasmus sê die verwagte nat toestande “en die manier hoe Engeland takties speel”, het hom laat besluit om met Van Zyl te begin.

“Embrose is meer instinktief en is goed in droë toestande en hy sal steeds ’n impak maak (in die tweede helfte).

“As dit Saterdag reën, moet jy meer skop. Die manier hoe Ivan oefen en sy vertoning in die Curriebeker-halfeindstryd teen die Westelike Provinsie, was baie goed.”

Van Zyl se talent was nog nooit onder verdenking nie en die voormalige Bok-grote Fourie du Preez, het vroeër die jaar in ’n onderhoud gesê hy is die man wat volgende jaar die nr. 9-trui by die Wêreldbeker-toernooi in Japan moet dra.

Erasmus het oënskynlik na dié advies geluister en Van Zyl was die skrumskakel in sy eerste toets aan die stuur – teen Wallis in die VSA.

Dié oud-Affie moes egter geduldig vir sy kans wag nadat hy nog verlede seisoen agter twee ander Bokke, Rudy Paige en Piet van Zyl, in die ry gestaan het by Loftus Versfeld.

“So vinnig soos wat dinge vanjaar in plek geval het, kan dit net so vinnig na die ander kant toe gaan. So ek is dankbaar vir al die voorspoed wat ek dié seisoen het,” sê Van Zyl.

En wie weet, hy mag hom dalk net as Suid-Afrikaanse rugby se vernaamste dominee-skrumskakel sedert die voormalige Springbok-kaptein Dawie de Villiers vestig.

Meer oor:  Dawie De Villiers  |  Ivan Van Zyl  |  Suid-Afrika  |  Engeland  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Debuut  |  Dominee  |  Bokke  |  Jaareindtoer  |  Skrumskakel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.