Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bok-triomf niks met opkikkers te doen

Dis loutere bog, sê professor Derick Coetzee, dat twee Ierse rugbykommentators nou praat van die “opkikker-kultuur” in Suid-Afrika wanneer daar na redes vir die Springbokke se Wêreldbeker-triomf gekyk word.

Lukhanyo Am (links) en Makazole Mapimpi speel vandeesmaand vir die Barbarians teen onder andere Fidji en Wallis. Hulle was op 2 November twee van die Bokke se sterre in die eindstryd van die Wêreldbeker-toernooi. Foto: Getty Images

Coetzee, ’n fiksheidsdeskundige, sê die Bokke het die WB-toernooi gewen omdat Rassie Erasmus, die hoofafrigter, en Aled Walters, die kondisioneringsafrigter, die spelers se werklading uitstekend bestuur het. Veral die voorspelers is só gebrei dat hulle hul beste spelpeil in die eindstryd bereik het.

Twee Iere, Ger Gilroy en Neil Francis, het onlangs gepoog om die Bokke se WB-sege verdag te maak deur die “opkikker-kultuur” in Suid-Afrika te kap. Maar dit het niks daarmee te doen dat die Webb Ellis-trofee nou in Plattekloof by die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se hoofkantoor staan nie.

Die voormalige Engelse senter, Jeremy Guscott, het ook gemor oor die aantal plaasvervangers wat ’n span kan gebruik. Hy kan maar mor, maar die aanwending van die reserwes was op die ou end die Bokke se geheime wapen.

“Rassie het ’n baie fyn oog vir besonderhede,” sê Coetzee, wat die kondisioneringsafrigter was toe die Bokke die WB in 2007 gewen het.

“Rassie het die Superrugby-spanne besoek en ook deur die loop van die seisoen verseker dat hy die spelers se werklading bestuur.

“ ’n Perfekte voorbeeld is die wyse waarop hy sy stutte geroteer het om hulle vars te hou vir die eindstryd. Baie krediet moet aan hom en Walters gaan – om spelers vir ses weke só te bestuur dat hulle op hul beste is aan die einde van ’n sesweek-siklus, is uitsonderlik.

“Hoe hy sy pak voorspelers bestuur het, was perfek. Dit was die verskil tussen wen en verloor.”

Derick Coetzee was die Bokke se kondisioneringsafrigter toe hulle die Wêreldbeker-toernooi in 2007 gewen het. Foto: Gallo Images

Erasmus het sy agttal vars gehou deur ses voorspelers op die plaasvervangersbank te kies.

Coetzee is wel nou bekommerd oor die talle spelers wat terugkeer na hul oorsese klubs. Wêreldbeker-sterre soos Makazole Mapimpi en Lukhayo Am speel boonop vir die volgende paar weke vir die Barbarians.

“Bykomende wedstryde is uiteraard nie wenslik vir spelers se rakleeftyd nie. Die werklading kan net te veel raak.”

Coetzee praat oor “chroniese werklading” teenoor “akute werklading”. Chroniese werklading is ’n speler se werklading oor ’n tydperk van meer as ses weke, terwyl akute werklading ’n speler se werkslading vir ’n spesifieke tydperk van ’n maand tot ses weke is – byvoorbeeld op die WB-toernooi.

Akute werklading moet nie ’n speler se chroniese werklading uitermatig oorskry nie.

“As ’n speler se chroniese werklading byvoorbeeld is dat hy oor drie maande elke Saterdag vir 80 minute lank speel, sal hy só ’n tipe werklading kan volhou in ’n toernooi soos die WB.

“Navorsing wys egter wanneer jou akute werkslading jou chroniese werklading wesenlik oorskry, jou risiko vir beserings baie vergroot.”

As ’n speler dus drie wedstryde binne twee weke op die WB speel, terwyl hy in Superrugby slegs twee wedstryde in twee weke sou speel, verhoog dit sy kanse om ’n besering op te doen.

Coetzee sê rustyd is bitter belangrik ná ’n uitmergelende toernooi soos die WB.

“Die Nieu-Seelandse Rugbyunie verplig hul toetsspelers om te rus. Spelers moet met verlof gaan.”

Nie baie Bokke het daardie luukse nie.

Faf de Klerk (Sale Sharks), Franco Mostert (Gloucester), Vincent Koch (Saracens), Cobus Reinach (Northampton Saints/Montpellier), Frans Steyn (Montpellier), Cheslin Kolbe (Toulouse) en Willie le Roux (Toyota Verblitz) is reeds aan oorsese klubs verbonde.

Ander WB-sterre soos Malcolm Marx (NTT Communications), Lood de Jager (Sale Sharks), RG Snyman (Honda Heat en Munster), Eben Etzebeth (Toulon), Kwagga Smith (Yamaha Júbilo), Duane Vermeulen (Kubota Spears), Handré Pollard (Montpellier), Damian de Allende (Panasonic Wild Knights en Munster) en Jesse Kriel (Canon Eagles) sluit hulle ook eersdaags by oorsese spanne aan.

Die Franse Top14 en Engelse Premierliga is reeds aan die gang. Die Japanse Topliga begin op 12 Januarie – drie weke voor Superrugby.

Erasmus sal nie so ’n groot invloed op daardie klubs kan hê as wat die geval met Superrugby-klubs is nie.

Van volgende jaar af gaan dit dus ’n groter uitdaging wees om die spelers se werklading so meesterlik soos by die WB-toernooi te bestuur.

* Die veteraan-Bokhaker Schalk Brits (38) het intussen amptelik bevestig dat hy nie weer volgende jaar op ’n rugbyveld gesien gaan word nie.

Erasmus het Brits verlede jaar, toe hy die eerste keer uitgetree het, oorreed om weer te begin speel.

Erasmus het Brits groot lof toegeswaai vir sy positiewe invloed op sy Bok-spanmaats die afgelope twee seisoene, asook sy professionele werketiek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.