Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bok-trui bly eerste prys, sê Jean-Luc

Faf de Klerk se ontwikkeling as speler nadat hy by die Leeus weg is en hy hom in Engeland by Sale Sharks gevestig het, het die Haai-losvoorspeler Jean-Luc du Preez aangespoor om ook ’n “Engelse breek” te vat.

Die 23-jarige Springbok-losvoorspeler het nie getwyfel dat dit hom goed sou doen om met ’n korttermynkontrak ’n spanmaat van De Klerk te word nie.

“Ek het net gevoel ná my baie beserings die afgelope tyd het ek nog baie rugby in my en ek is nog lus om te speel,” het Du Preez uit Manchester aan
Rapport
gesê.

“Ek wil graag soveel moontlik speel om weer my beste vorm te herwin.”

Jean-Luc du Preez tydens die Sale Sharks se wedstryd teen Northampton Saints op 24 November in Salford.Foto: getty images

Sy 13de toets was laas op 23 Junie in die Kaap teen Engeland. Hy het daarna onder meer weens beserings die Rugbykampioenskap en die Bokke se toer na Europa misgeloop.

Hy het eers in die Haaie se laaste drie Curriebeker-kragmetings met Griekwas, die Leeus en Westelike Provinsie weer gespeel.

Teen Griekwas en die Leeus was hy ’n plaasvervanger, maar in die eindstryd teen die WP was hy terug in die beginspan.

“Elke minuut wat ek my toks aan het, of dit op die oefenveld of in ’n wedstryd is, is met die uitsluitlike doel om vir my ’n plek in die Bokke se Wêreldbekerspan oop te speel.

“Al waaraan ek dink, is om myself weer terug in die Bok-trui te kry.”

Die mededinging onder die losvoorspelers gaan uiters straf wees vir ’n plek in die Bokke se Wêreldbekerspan. In sy afwesigheid het iemand soos Pieter-Steph du Toit vanjaar bestendig die beste spel deur enige seweflank in wêreldrugby gelewer.

Siya Kolisi vaar ook veel beter as baldraer as baljagter, wat Rassie Erasmus al hoe meer onder druk plaas om hom na seweflank te skuif en na ’n baljagter te kyk.

Du Preez bied aan enige span momentum as baldraer. Hy is ook ’n speler wat as verdediger die momentum kan stuit. En dan pas sy fisieke spel goed in by die Bokke se benadering om ’n groot en sterk agttal te kies wat deur teenstanders gevrees word.

Erasmus is ingelig oor hoe die Suid-Afrikaners oorsee vaar. Hy weet dat Du Preez sover ’n boelie in die Engelse Premierliga is en sy rugby met ’n glimlag speel.

“Ek geniet dit baie in Manchester. Ek het ’n warm ontvangs hier gehad en die spangees is goed.

“Dis anders om hier te speel en iets wat ek nog nooit ervaar het nie. Dis koud en die rugby is kliphard.

“Ek sal natuurlik as ’n mens en speler hier groei. Ek leer reeds baie.”

Die strukture en die patrone by Sale Sharks is baie dieselfde as die van die Haaie. Du Preez se aanpassing was dus naatloos.

“Ek moes wel die nuwe tekens leer, maar dit het vinnig gegaan.

“Ek geniet die toestande en die wedstryde is fisiek. Die tempo van die spel is dalk so rapsie stadiger as in Superrugby.

“Dit voel of ek die bal beter moet beskerm. In dié toestande moet ek die bal ook nie so baie soos in Superrugby in kontaksituasies probeer uitgee nie.”

Daar moet volgens Du Preez nie te veel daarin gelees word dat Sale Sharks hom meestal as agtsteman oorweeg nie.

“Ek sal altyd ’n toekantflank bly. Ek het lief geword vir my sewetrui.

“Ek los agtsteman maar vir Dan (du Preez, sy tweelingbroer). Hy het die ervaring daar.

“Ek geniet dit egter om hier agtsteman te speel. Veral omdat hy (agtsteman) nie hoef terug te val nie.

“Die agtsteman hier is meer betrokke by die spel. So ek is gelukkig dat ek in die regte rigting beweeg.”

  • Du Preez en sy ouer broer, Robert, wat ook tans sy rugby vir Sale Sharks speel, sal voor die begin van die Superreeks weer in Durban by die Suid-Afrikaanse Haaie aansluit.
Meer oor:  Jean-Luc Du Preez  |  Faf De Klerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.