Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Hendrik Cronjé gesels met Marcell Coetzee
Coetzee: ‘Bok-vuur in my maag’

Marcell Coetzee sal teleurgesteld wees as hy ná twee jaar se kondisionering en harde oefening nie sterker en beter na die rugbyveld terugkeer nie.

Nadat ’n tweede knieoperasie hom die afgelope sowat nege maande uit die spel gehou het, loop die 27-jarige baljagter se pad deur die Pro14-reeks terug na die Springbok-span.

Marcell Coetzee, Springbok-flank van Ulster, word deur Andrea Buondonno van Benetton beetgekry in ’n Pro14-wedstryd in Belfast. Foto: getty images

Sy voorbereiding is op koers om op 1 September in die Kingspan-stadion teen die Scarlets in slegs sy sesde wedstryd vir Ulster te speel. Beserings het verhinder dat hy meer vir sy Ierse klubspan kon speel sedert hy hom in 2016 van die Haaie af by Ulster aangesluit het.

“Ek voel baie goed,” het Coetzee die afgelope week uit Belfast aan Rapport gesê.

“My lyf voel goed. Ná twee jaar van min rugby speel en baie kondisionering, hoop en glo ek ek is in die beste fisieke toestand nog in my loopbaan.

“Ek het baie kragwerk gedoen en hoop dit sal deurkom. Maar net die tyd sal leer.”

Ná sy beserings beskou hy sy moontlike terugkeer tot die Bok-span as ’n langtermyndoelwit.

“Sedert ek hier aangekom het, het ek geleer om dit dag vir dag te neem. Daar sal altyd ’n brandende begeerte binne my wees om weer vir die Bokke te speel,” het Coetzee bygevoeg.

“Ek sal altyd daardie vuur en passie in my hart hê om weer vir die Bokke te speel. Ek sal alles gee as ek 100% reg is om weer oorweeg te kan word. Dit is nou as ek as goed genoeg beskou word.

“Tot dan wil ek sterker en beter word.”

Dié boorling van Potchefstroom is ondanks sy beserings steeds op die Bok-radar. Hy kan nog later vanjaar in sy 29ste toets speel.

Net so is die tyd ryp vir ’n verandering in my lewe. Ek sal graag wil aanhou ­afrig op die toer.

Coetzee is een van die oorsese Bokke met wie Rassie Erasmus vroeër gepraat het.

Die hoofafrigter van die Bokke soek nog na ’n ware baljagter wat hy Wêreldbeker toe kan neem. Hy kan Francois Louw en Marco van Staden speelkans in die Rugbykampioenskap gee. Heinrich Brüssow is die ander baljagter wat vorentoe ’n kans kan verwag, nadat Kwagga Smith teen Wallis in Washington geweeg is.

Omdat Erasmus die Ierse klubspan Munster in die Pro14 afgerig het, sal dit nie teen Coetzee tel dat hy nie Top14-rugby, Superrugby of in die Engelse Premierliga speel nie. Erasmus is vertroud met Pro14-rugby en het dit al dikwels met toetsrugby vergelyk.

“Iets wat my dryf om weer die beste te word en terug te keer, is die genot wat ek uit die spel kry. Dit is ’n groot voorreg om die spel te speel. Jy kan dit nooit as vanselfsprekend aanvaar nie.”

“Daar is ook wonderlike oomblikke van die veld af. Rugby verenig mense. Ek het net soveel tyd om rugby te speel. Ek beskou dit alles as ’n gawe van God.”

Coetzee erken die afgelope paar maande was taai en dit was uiters frustrerend om nie te kon speel nie. “Beserings is baie moeilik. Veral langtermynbeserings. Dis baie frustrerend. Rugby is waarvoor jy lewe en die soggens uit die bed klim.

“Ek het egter in Belfast geleer rugby is nie alles nie. Geduld is nog iets wat ek vinnig met die beserings moes aanleer. Die lojaliteit van mense en familie is vir my belangrik. Hulle het my die afgelope tyd gedra.

“My grootste uitdaging by
Ulster is om vir die mense by my klubspan iets terug te kan gee vir die vertroue wat hulle in my gestel het. Tot dusver kon ek nog min teruggee weens al my beserings.

“Ek het ook geleer jy kan nie alles beheer nie. Ek het tydens my beserings probeer om op ander gebiede te help. Al is dit om iets vir van die jonger spelers te beteken.”

Coetzee en sy vrou, Chanelle, is sedert hul trek Noordelike Halfrond toe baie tuis in Belfast en Noord-Ierland.

“Ons het die Ierse kultuur omhels. Hier is vriendelike en passievolle mense. Dis ’n ongelooflike land om in rugby te speel.”

Meer oor:  Marcell Coetzee  |  Rugby  |  Knieoperasie  |  Rugbyveld  |  Pro14-Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.