Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Duane tel sy seëninge in ‘onsekere tye’

Jy speel rugby om te wen en die Springbokke sal nie teen die Britse en Ierse Leeus uitdraf om net mee te ding nie, verseker die Bok-strydros Duane Vermeulen.

Hy wou nog altyd ’n toetsreeks teen die Leeus op sy reeds indrukwekkende rugby-CV aanbring, maar Vermeulen sal graag ook in hakies wil aandui dat Suid-Afrika die wenner van die reeks was.

Duane Vermeulen, ysterman van die Bok-agttal, is oorgehaal om teen die Britse en Ierse Leeus te speel. Foto: Getty Images

“Jy wil wen, dit sal nooit verander nie. Almal in die Bok-kamp sal daardie doelwit hê.

“Die twee toetse in Julie teen Georgië sal baie help om die roes af te skud voordat ons teen die Leeus speel.

“Ja, ons het lanklaas gespeel en daar is ’n paar beserings, maar ek weet ons afrigtingspan het hul planne agtermekaar.”

Vermeulen sê hoewel die Leeus se toergroep verlede week aangekondig is, is daar nog baie onsekerheid oor die toer.

Ek sal baie graag weer in ’n volgepakte stadion wil speel en daardie ongelooflike opbou tot ’n groot wedstryd wil ervaar, maar ons leef in onsekere tye.

“Om teen die Leeus met hul fanatiese ondersteuners in ’n stadion te speel, is seker die toppunt in rugby.

“In die stadium weet ons nie of daar enige toeskouers toegelaat sal word nie en dit is beslis nog nie ’n gegewe nie (dat die toer wel gaan plaasvind).

“Ek sal baie graag weer in ’n volgepakte stadion wil speel en daardie ongelooflike opbou tot ’n groot wedstryd wil ervaar, maar ons leef in onsekere tye.”

Die Covid-19-pandemie het Vermeulen in die skemertyd van sy loopbaan van ’n hele jaar se internasionale rugby ontneem in 2020.

Hoewel hy spyt is daaroor, is daar baie ander mense wat slegter daaraan toe is, sê die Suid-Afrikaanse Speler van die Jaar.

“Dit is jammer en ek sou dit graag anders wou hê, maar die pandemie is baie erger as iemand wat ’n paar rugbytoetse misgeloop het.

“Ons het darem nog werk en kan steeds ons passie uitleef.”

En hy beplan om dít voluit te doen die volgende paar weke.

“Ek dink nie ons sal regtig afwyk van die plan wat ons by die Wêreldbeker-toernooi (in 2019) gehad het nie. Ja, daar sal dalk ’n paar nuwe verstellings wees.

As ek die kans kry, sal dit ’n baie groot mylpaal in my loopbaan wees.

“Dit was nog voor verlede week so half kopkrap oor wie hulle (die Leeus) sal kies, maar nou is Jacques (Nienaber)-hulle dalk meer in detail besig om die spelers in hul groep te ontleed.”

Is hy verras dat die Engeland-agtsteman Billy Vunipola nie die groep gehaal het nie?

“Ek het nog altyd daarvan gehou om teen Billy te speel.

“Hy is groot, sterk en fisiek, maar ek dink (Warren) Gatland het sy plan hoe hy teen die Bokke wil speel.

“Hy sou ook die spelers gekies het wat hy dink reg is daarvoor. Ek verwag dat dit by ons dieselfde storie sal wees.

“Daar is ’n paar nuwe ouens wat beslis sterk in die wedloop moet wees. Daar sal altyd spelers wees wat teleurgesteld is en daar behoort ’n paar skokke te kom.

“As ek die kans kry, sal dit ’n baie groot mylpaal in my loopbaan wees.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.