Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokblits Cornal se hart wek groot kommer
Cornal Hendricks, een van die Stormers se Springbok-aanwinste, se loopbaan is in die weegskaal. Foto: Gallo

Kaapstad. – Die Springbok- ­vleuel Cornal Hendricks se rugbyloopbaan is weens ’n ernstige harttoestand in die weegskaal.

Hendricks, een van die groot visse wat deur die Westelike Provinsie gevang is vir die Stormers se Superrugby-veldtog vanjaar, is in die sorg van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru). Sy mediese toestand het blykbaar aan die lig gekom nadat hy hom laat verlede jaar by die Bok-seweskamp aangesluit het.

Saru wou nie gister kommentaar lewer nie en het óók nie die nuus bevestig nie.

Die WP het vandeesweek kripties geantwoord op die vraag oor waarom Hendricks hom nie vandeesweek by sy Sentrum vir Uitnemendheid in Bellville aangemeld het nie.

Nóg die WP se direkteur van rugby, Gert Smal, nóg die Stormers se afrigter, Robbie Fleck, kon eergister sê wanneer Hendricks beskikbaar sal wees. Hulle het die sensitiewe inligting oor sy mediese toestand verswyg.

Die Burger se navrae het gevolg nadat Cheslin Kolbe en ­Juan de Jongh uit die Blitsbokke se kamp aan die Stormers vrygestel is. Albei het in die sewestoernooie in Sydney en Wellington gespeel. Hendricks, wat nie het nie, is deur Saru behou.

Dis op dié tydstip nog onbekend of Hendricks aangeraai is om sy stewels op te hang. Hendricks sal waarskynlik by etlike spesialiste die jawoord moet kry voordat Saru óf die WP bereid sal wees om hom te kies.

Hoewel Hendricks se welstand bo die span se belange gestel sal word, kan dié wending vir die Stormers ernstige gevolge inhou. Selfs met die aanwins van Hendricks was die diepte op die vleuel reeds yl gesaai.

Dillyn Leyds, ’n heelagter, het verlede seisoen gereeld vir die Stormers as vleuel uitgedraf. Johnny Kotze, ’n senter, is óók as vleuel gekies.

Nietemin kan dié situasie vir die belowende jongeling Leolin Zas geleenthede skep.

Die 20-jarige Zas het verlede seisoen vir Fleck se triomfantelike WP o.21-span uitgeblink en word Saterdag straks in die Stormers se nr. 11-trui teen die Jaguares getoets. Kobus van Wyk is die ander vleuel.

Die Stormers sal sonder die dienste van die Springbokke Eben Etzebeth (slot), Frans Malherbe (vaskopstut) en Schalk Burger (flank) wees. Burger het glo ’n kuitbesering, terwyl Etzebeth en Malherbe nie aan die risiko van beserings blootgestel gaan word nie.

De Jongh (senter) en Kolbe (heelagter) sal waarskynlik óók nie betrokke wees nie nadat hulle hul eers vandeesweek weer by die Stormers aangesluit het.

Met Malherbe, De Jongh en Burger wat waarskynlik almal buite aksie is, is daar steeds nie finaliteit oor wie die Stormers vanjaar gaan aanvoer nie. De Jongh, Malherbe en Burger is die voorste kandidate.

Waarskynlike Stormers-beginspan: Dillyn Leyds, Kobus van Wyk, Johnny Kotze, Huw Jones­, Leolin Zas, Robert du Preez, Jano Vermaak, Nizaam Carr, Sikhumbuzo Notshe, Rynhardt Elstadt, Pieter-Steph du Toit, Jean Kleyn, Vincent Koch, Bongi Mbonambi, Oli Kebble.

Meer oor:  Cornal Hendricks  |  Springbok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.