Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokbreiers het iets beet, sê Frans Steyn
Frans Steyn (regs) en André Esterhuizen deel in die vreugde ná die Springbokke die Wallabies Saterdag op Ellispark slae gegee het. Foto: Getty Images

Dit wat hy die laaste twee weke in die Springbokgroep ervaar het, het sy oë laat rek en hy weet nou: Hier is iets baie spesiaals aan die gebeur.

Frans Steyn het nadat die Springbokke die Wallabies Saterdagaand met 35-17 op Ellispark geklop het, geen geheim daarvan gemaak nie dat hy glo die Bok-afrigter, Rassie Erasmus, en sy afrigtingspan doen fantastiese werk.

“As ek twee jaar gelede in Frankryk moes sit en dink jy speel teen die Wallabies sonder soveel van jou eerstekeuse- spelers, sou ek nooit gedink het ons sou kon wen nie. Daar sit 14 van ons beste spelers nou in Nieu-Seeland en ons klop die Wallabies steeds. Dit is ongelooflik wat Rassie-hulle besig is om hier reg te kry.

Toe ek my hier by die groep aansluit, kon ek sommer dadelik sien met watter spesiale dinge Rassie-hulle besig is.
Frans Steyn

“Ek weet die afrigting in Frankryk is nie altyd van die beste nie, maar toe ek my hier by die groep aansluit, kon ek sommer dadelik sien met watter spesiale dinge Rassie-hulle besig is,” het Steyn gesê nadat hy sy eerste toets sedert 2017 gespeel het.

“Ek was vooraf baie senuagtig,” erken hy. “Dit is eintlik my vrou se skuld. Sy het so op en af gestap in die hotelkamer net voordat ons in die bus geklim het om veld toe te kom.

“Toe het sy my senuwees op hol gehad. Eers toe ons hier op die veld begin opwarm, het ek darem weer rustig geraak,” sê Steyn.

André Esterhuizen

Hierdie kolos van Springbokrugby, wat as takhaar-tiener al ’n Wêreldbeker-medalje ontvang het, het André Esterhuizen met ’n halfuur se spel oor vervang.

Hy het genoeg in daardie tyd gedoen vir Erasmus om hom groot lof vir sy vertoning toe te swaai.

“Ek was nie reg om hierdie toets te kon begin nie,” het Steyn oop kaarte gespeel.

“’n Mens is seker nooit gelukkig as jy nie in ’n beginspan is nie, maar tog was ek hier binne my maar bly ek het nie begin nie. Ek weet nie of ek reg sou wees daarvoor nie.

“Ek het die tyd wat ek gespeel het egter baie geniet. Dit is asof al die dinge terugkom na jou toe. Wat hierdie sege oor die Wallabies so fantasties maak, is dat ons eintlik ’n klomp ouens was wat saamgegooi is en nog nooit saamgespeel het nie.

“Ja, daar gaan ouens wees wat sal sê ons was gelukkig om hierdie toets te wen, maar vir ons is dit die oorwinning waaroor dit gaan.

“Ek was eintlik baie moeg ná die wedstryd. Ek het vooraf ook op ons plaas geoefen en fiks gevoel, maar so in die hitte van die stryd het ek gesukkel om ’n tweede asem te kry.

Ek het vooraf ook op ons plaas geoefen en fiks gevoel, maar so in die hitte van die stryd het ek gesukkel om ’n tweede asem te kry.
Frans Steyn

“Ek sal alles insit om die Wêreldbeker-groep te haal. Wie weet, Rassie kan besluit hy stuur my terug na my oorsese klub en dan pak ek maar weer my tassies en daar gaan ek. Hy kan egter verseker wees solank ek hier by die groep is, sal ek alles insit.

“So oor die jare neuk ’n ou maar baie dinge op en jy begaan foute. Tog is dit deel van die proses om jou karakter te bou.

“Dalk was dit my laaste wedstryd nog op Ellispark, maar dit was in elk geval ’n spesiale ervaring.

“Ons is ’n land met probleme, maar ek dink ons moet geniet en waardeer wat ons tog nog het. Dit is steeds iets besonders,” het dié oud-boorling van Aliwal-Noord gesê.

Rugbykampioenskap: Puntelys

Meer oor:  Frans Steyn  |  Rassie Erasmus  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Wallabies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.