Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokhulp na Bulle
Johann van Graan

Die winde van verandering waai stormsterk op Loftus Versfeld.

Nollis Marais se dae as hoof­afrigter van die Bulle is getel. Hy is reeds ingelig dat hy aan die einde van die seisoen as hul Superrugby-afrigter klaarmaak.

En sy waarskynlike opvolger is Johann van Graan, een van die Springbokke se hulpafrigters, ’n ou hand op Loftus Versfeld – en ook die seun van die Bulle se uitvoerende hoof, Barend van Graan.

Heyneke Meyer was die aanvanklike gunsteling om Marais te vervang. ­Meyer is verlede week gevra om hom dadelik tot die einde van die seisoen by Marais-hulle aan te sluit.

Weens sy verpligtinge as die besturende direkteur van Carinat Sports Marketing kon hy nie aan dié versoek voldoen nie.

Meyer was die afgelope week in Mauritius by die loting van die Beachcomber Resorts & Hotels 10’e-toernooi en het eers Vrydag na Suid-Afrika teruggekeer.

Rapport verneem die gewese Bok-afrigter is ongeneë om sy rug te keer op die maatskappy wat lojaal teenoor hom was toe die res nie in hom belang gestel het nie nadat hy sy pos as Springbok-afrigter kwyt was.

’n Ander aspek wat Meyer glo weerhou het om nou by die Bulle betrokke te raak, is sy aandrang om sy eie keuse van hulpafrigters en spesialiste aan te stel.

Die oud-All Black wat die Leeus ’n ruk lank afgerig het, John Mitchell, en die Cheetahs se breier, Franco Smith, is die ander name wat glo op ’n kortlys is.

Van Graan was Vrydag op Loftus waar hy in ’n onderhoud vir die pos van hoofbreier ’n voorlegging aan die Bulle se direksie gemaak het. Volgens ’n bron was dit ’n baie goeie voorlegging wat die direksie beïndruk het.

Van Graan se noue kennis van die Bulle se binnewerkinge én die ervaring wat hy destyds by Meyer opgedoen het toe die Bulle hul goue era beleef het, plaas hom in die binnebaan om die pos te kry.

Hy het wel geen ervaring as ’n hoofafrigter nie, maar is sedert 2012 een van die Bokke se hulpafrigters en hy geniet groot aansien as ’n spesialis van voorspelerspel.

Hy is sedert 2015 se Wêreldbekertoernooi al verskeie hoofafrigter-posisies by spanne soos Bath en Worcester Warriors aangebied.

Dis bekend dat die spelers sy werk­etiek en tegniese vermoë hoog aanslaan. Hy is ook vertroud met Meyer se manier van doen.

Van Graan se moontlike aanstelling kan beteken dat hy ná die Rugbykampioenskap uit die Bokke se bestuurspan moet bedank. Matt Proudfoot kan dan sy verantwoordelikhede oorneem as Allister Coetzee-hulle die reeks teen die Franse oorleef.

Van Graan is nou grootliks vir die Bokke se lynstaanspel verantwoordelik, nadat hy van 2012 tot einde verlede jaar ook die aanvallende afrigter was.

Smith is tot 2019 kontraktueel met die Cheetahs verbind as sy span wel deel van die Superreeks bly. Dit bemoeilik onderhandelinge met hom.

Mitchell, wat deesdae die span van Amerika afrig, is die ander aanspraakmaker. Hy word steeds as ’n sterk kandidaat beskou.

Meer oor:  Nollis Marais  |  Johann Van Graan  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.