Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
100ste Bok-All Black-toets op Eden Park

Die Springbokke se 100ste toets teen die All Blacks sal volgende jaar plaasvind op ’n veld waar Suid-Afrika in 1937 laas ’n oorwinning behaal het.

Bismarck du Plessis loop die All Black-losskakel Dan Carter in 2013 te pletter op Eden Park. Foto: Getty Images

Nieu-Seeland Rugby (NZR) het Maandag aangekondig dat die Bokke en All Blacks op 5 September op Eden Park in Auckland sal kragte meet in die Rugbykampioenskap.

Die laaste keer wat die draers van die Groen-en-goud die geestelike tuiste van Nieu-Seelandse rugby as wenners verlaat het, was toe Phil Nel se beroemde Bok-span 82 jaar gelede met 17-6 getriomfeer het.

Die Bokke het daardie dag nie minder nie as vyf drieë ingeryg en hul oorwinning daar het die Bokke tot ’n roemryke reekssege met 2-1 gevoer. Nel se span het voor hul Nieu-Seelandse toer ook albei sy toetse teen die Wallabies in Australië gewen.

Sedert daardie goue dag op 25 September 1937, was die naaste wat die Bokke in agt toetse op Eden Park aan ’n oorwinning kon kom, ’n gelykop-uitslag van 18-18 in 1994 en het Suid-Afrika verskeie bloutjies daar geloop.

Ray Mordt se driekuns aan drieë teen die All Blacks op Eden Park in 1981 is deur die meelbom-aanvalle op die veld oorskadu. Foto: Gallo Images

Die 1981-toets op Eden Park sal byvoorbeeld onthou word vir ’n anti-apartheidsaktivis se meelbom-aanvalle uit ’n Cessna-vliegtuig op die veld. En ook vir die omstrede strafskop wat die Walliese skeidsregter Clive Norling in die vierde minuut van beseringstyd aan die All Blacks toegeken het.

Dít het Alan Hewson in staat gestel om ’n strafdoel aan te teken en die All Blacks het die toets met 25-22 en die reeks met 2-1 gewen. Dié gebeure het Ray Mordt se driekuns aan drieë oorskadu.

In 2013 was ’n skeidsregter weer midde-in groot drama op Eden Park. Dié keer was dit die Fransman Romain Poite, wat Bismarck du Plessis verkeerdelik ’n geelkaart gewys het vir ’n plettervat op die All Black-losskakel Dan Carter.

Toe Du Plessis vroeg in die tweede helfte ’n tweede geelkaart gewys is, moes hy die veld permanent verlaat en het die Kiwi’s uiteindelik maklik met 29-15 gewen.

Die Springbokke, wat nou weer wêreldkampioen-status het, sal egter glo dat hulle op lange laas die bordjies op Eden Park kan verhang.

Die Bok-vleuel Dai Williams teen die All Blacks in aksie op Eden Park in 1937. Hy het een van Suid-Afrika se vyf drieë in dié wedstryd gedruk. Foto: Springbok-sage

Hulle het immers die afgelope twee jaar ’n oorwinning en ’n gelykop-uitslag in Wellington behaal en die All Blacks sal nie meer daardie sielkundige houvas op hulle hê nie.

Maklik sal dit egter nie wees nie. Die All Blacks het in 1994 laas op Eden Park verloor (teen Frankryk) en het sedertdien 40 oorwinnings en twee gelykop-uitslae daar behaal.

In die 99 toetse wat die Bokke en All Blacks sedert 1921 teen mekaar gespeel het, het Nieu-Seeland 59 gewen en Suid-Afrika 36. Vier toetse het gelykop geëindig.

Sedert Suid-Afrika se hertoelating in 1992 het Nieu-Seeland sy kragmetings met die Bokke oorheers en 44 teenoor 16 gewen, met twee gelykop-uitslae.

Voor isolasie was die Bokke egter beter daaraan toe, met 20 oorwinnings, 15 nederlae en twee gelykop-uitslae.


Meer oor:  Bokke  |  Springbokke  |  All Blacks  |  Eden Park
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.