Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke begin in alle erns voorberei

Die toetsreeks teen die Britse en Ierse Leeus, deelname aan die Rugbykampioenskap en ’n tradisionele jaareindtoer.

Rassie Erasmus, Saru se direkteur van rugby, en Jacques Nienaber, die Springbok-afrigter, sal binnekort weer op die oefenveld planne kan smee met die oog op die 2021-seisoen. Foto: Getty Images

Nadat die Springbokke in 2020 nie ’n enkele toets gespeel het nie, is dít hoe die 2021-seisoen vir die wêreldkampioen in die vooruitsig gestel word.

Met al die fokus wat tot dusver vanjaar daarop was om die Leeus-toer te red midde-in die voortslepende Covid-19-warboel, was dit onduidelik hoe die res van die seisoen vir die Bokke gaan verloop.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het Dinsdag in ’n verklaring gesê daar word wel beplan om in die Rugbykampioenskap (teen Nieu-Seeland, Australië en Argentinië) te speel en in November in die noorde te gaan toer.

Toetse teen Skotland (13 November) en Engeland (20 November) is reeds op die kalender aangeteken.

Rassie Erasmus, Saru se direkteur van rugby, sê met minder as 90 dae oor voordat die Leeus in Suid-Afrika aankom, is elke dag nou van groot belang.

Die span se voorbereiding begin reeds vandeesweek met ’n belyningskamp wanneer Erasmus en Jacques Nienaber, die nuwe Bok-afrigter, met ’n groep spelers van die Bulle en die Leeus laer trek.

Dit is die eerste van ’n reeks belyningskampe plaaslik en oorsee.

Erasmus-hulle sal Donderdag en Vrydag in Durban wees om hul planne vir die seisoen met spelers van die Haaie te deel, terwyl uitverkorenes in die Stormers-kamp Maandag ’n soortgelyke kamp sal bywoon.

Die Springbok-bestuurspan sal aanstaande Woensdag in Bloemfontein besoek aflê.

Daar sal ook oorsee kampe wees vir die groot gros Bokke wat in Brittanje, Ierland, Frankryk en Japan speel.

Twaalf spelers wat in die 2019 Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland in die 23-tal was, speel oorsee. Hulle is Willie le Roux, Franco Mostert, Malcolm Marx, Makazole Mapimpi (almal in Japan), Lood de Jager, Faf de Klerk, Vincent Koch (almal Engeland), Eben Etzebeth, Handré Pollard, Cheslin Kolbe (almal Frankryk) en RG Snyman en Damian de Allende (albei Ierland).

Erasmus beskryf dit as die volgende fase van die Springbokke se strategiese beplanning om terug te keer tot internasionale rugby.

“Met ’n baie besige en uitdagende internasionale seisoen wat wag, is dit belangrik dat ons almal so gou as moontlik op dieselfde bladsy kry.

“Hoewel Jacques en sy afrigtingspan die afgelope 15 maande deurgaans met die spelers in verbinding was om op die hoogte te bly van hul vertonings, herstel van beserings en algemene welstand, is ons nou opgewonde daaroor om met die spelers in ’n spanomgewing te begin werk.

“Die plaaslike spelers sal die volgende twee weke met die afrigters en die mediese en kondisioneringspan vergader, terwyl Felix Jones (die Bokke se hulpafrigter wat in Dublin gesetel is) by die spelers in Brittanje en Frankryk sal uitkom.”

Daar sal aanlyn vergaderings met die Bokke in Japan gehou word.

Nienaber, wat in Januarie 2020 as die 14de Springbok-afrigter sedert hertoetrede in 1992 aangewys is, sê gegewe dat daar nie baie tyd is om voor te berei nie, is dit belangrik dat die spelers “logistieke en ander relevante reëlings” uitgesorteer kry voordat die oefenkampe begin.

“Daar is by almal, van die spelers en afrigters tot by die bestuurspan, groot opgewondenheid oor die seisoen wat voorlê.

“Baie agtergrond-beplanning is reeds gedoen, maar dit is nou tyd om op die volgende stap van ons voorbereiding te fokus.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.