Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke, Dobson dreig WP-rugbyunie

Drie prominente Springbokke van die Westelike Provinsie het met prokureursbriewe gedreig om eise vir skadevergoeding teen die WP-rugbyunie in te stel, terwyl die Stormers se nuwe afrigter, John Dobson, die WP-direksie gedreig het om saam met sy span afrigters te bedank.

Dit was van die woelinge agter die skerms wat die WP-spelers se kontrak-krisis die afgelope week op die spits gedryf en die unie se sakevleuel, WP Rugby, gedwing het om geld “van elders af” te bekom om die spelers se kontrakte en die salarisse van werknemers te verseker.

John Dobson Foto: Gallo Images

Na verneem word, het Dobson op ’n krisis-vergadering met die direksie gedreig om te bedank as spelers nie die kontrakte kry wat aan hulle beloof is nie.

Rapport is ook daarvan bewus dat die WP-rugbyunie reeds drie prokureursbriewe ontvang het waarin met skadevergoedingseise gedreig word as die WP nie sy beloftes nakom nie.

In die geval van verskeie spelers – wat die Springbokke Siya Kolisi, Pieter-Steph du Toit, Steven Kitshoff, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Damian Willemse en Si­khumbuzo Notshe insluit – is verbale ooreenkomste gesluit om hulle in die provinsie te hou, maar hulle het nog nie hul kontrakte ontvang nie.

Kontrakte kan egter nou aan hulle voorgelê word danksy geld van ’n borgskap wat tans met die bankreus Investec onderhandel word vir naamregte vir die Nuweland-stadion. Rapport se inligting is dat die onderhandelinge oor die borgskap al afgehandel is.

Dit bring mee dat ’n reddingsboei – wat ’n waarborg van R25 miljoen behels – na WP Rugby uitgegooi is en dit die krisis afgeweer het.

Dobson se eie ingryping het egter ’n groot rol gespeel om die WP se top-spelers in die Kaap te hou.

Met die kontrakteringstydperk wat môre begin, kan die WP se Bokke egter steeds besluit om kontrakte by ander unies te teken. Die algemene siening is egter dat hulle sal bly noudat die krisis bygelê is en Dobson en sy span afrigters sal aanbly.

Tydens ’n krisisvergadering die afgelope week is glo eers ’n waarborg van R18 miljoen aangebied, maar dit is verwerp aangesien dit nie genoeg was om ook die salarisse van werknemers te dek nie. Dit is toe na R25 miljoen opgestoot.

Dit alles volg nadat daar die afgelope week in die wandelgange gefluister is dat die unie op die drempel van nog ’n likwidasie-aansoek is.

WP Rugby het hom in 2016 vrywillig laat likwideer en is nog deel van ’n hofaansoek van die maatskappy Aerios, wat beweer WP Rugby skuld hom R72 miljoen vir kontrakverpligtinge wat WP Rugby glo nie nagekom het nie.

Investec se hoof van borgskappe, Peta Dixon, het aan Rapport gesê die maatskappy is nie bewus van enige nuwe borgskappe of ooreenkomste wat met die WP gesluit is nie. Sy het Rapport na die WP-rugbyunie verwys.

Rapport het vrae na Zelt Marais, president van die WP-rugbyunie, Paul Zacks, uitvoerende hoof van WP Rugby, en Dobson gestuur vir kommentaar, asook Michael de Vries, WP-woordvoerder. Teen druktyd is geen antwoorde van hulle ontvang nie.

Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.