Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke en Wallis se berugte moddertoets

Die Springbokke behoort darem Sondag in Japan, in hul Wêreldbeker (WB)-halfeindstryd teen Wallis, hul teenstanders se rooi truie te kan sien.

Nie soos in 1970 in Cardiff toe albei spanne so van die modder besmeer was dat sommige spelers soms byna hul eie spanmaats per ongeluk platgetrek het nie.

So ’n pappery sien ’n mens selde. Van die spelers het omtrent tot by hulle enkels in die modder weggesak as hulle te lank op een plek gestaan het.

En wat van die voorspelers wat ná ’n losskrum of vaste skrum geval en opgestaan het en skielik niks kon sien nie?

“Water! Bring asseblief tog net ’n bietjie water dat ek my oë kan uitwas!” is ’n paniekbevange kreet wat ’n paar keer van onder uit ’n modderpoel opgeklink het.

“Dit was verskriklik koud en nat en die modder het jou vasgesuig,” vertel Johann van der Merwe, nou 71 jaar oud, hierdie week in sy huis in Blouwaterbaai, net buite Port Elizabeth.

’n Toneel uit die toets tussen die Bokke en Wallis in 1970. Foto: Johann van der Merwe se versameling

Van der Merwe was in 1970 maar 22 jaar oud. Hy het daardie dag teen Wallis sy toetsdebuut vir die Springbokke gemaak.

Volgens rugbyskrywers wat daardie toer na Brittanje meegemaak het, was hy die vonds van die toer. Hy sou al in die vorige toets teen Ierland gespeel het as hy nie griep gehad het nie.

“Daardie griep was kwaai. Ek wou nie uit die bed opstaan nie, maar toe dwing Gawie Carelse (een van die Bokke se slotte) my om ’n bierbeker whisky weg te slaan en toe ek weer sien, was ek gesond,” sê Van der Merwe.

Maar dit was te laat vir die toets teen Ierland. Mannetjies Roux, wat aanvanklik nie vir die toer gekies is nie, was saam met Tonie Roux die senters teen die Iere.

Toe Van der Merwe vir die toets teen Wallis gekies word, het Mannetjies Roux hom in ’n oefening met ’n plettervat probeer afskryf.

“Ek het vir hom gesê: ‘Ag nee man, Mannetjies.’ Hy was nie baie gelukkig dat hy weggelaat is nie. Maar weet jy wat, die dag van die wedstryd in die kleedkamer was ek so senuweeagtig dat ek omtrent nie my tokse kon aantrek nie. Toe sit Mannetjies langs my en praat my moed in en help my om my tokse aan te trek,” sê Van der Merwe.

Daardie toer was die eerste een waar die Bokke op ’n groot skaal met anti-apartheidsbetogers te doen gekry het.

“Toe ons die dag van die toets by die Cardiff Arms Park aankom, was dit nie ’n mooi gesig nie. Daar was sowat 1 000 polisiemanne, ’n sewevoet-doringdraadheining reg om die veld, die speelveld omring met hooibale, die veld sopnat en die lug donker met onweerswolke,” skryf Frik du Preez in Frik:Die outobiografie van ’n legende.

Syd Nomis druk die Bokke se drie teen Wallis in 1970. Foto: Springbok-sage

Gerhard Viviers skryf in Rugby agter doringdraad dat daar in dieselfde koerant in Cardiff twee advertensies was – die een pro-toer en die ander een teen die toer.

“Ja, die betogers kon soms maar moeilik raak,” onthou Van der Merwe.

“Daar was die keer in Londen toe ons in ’n bus geklim het. Toe ons weer sien, ry die bus in karre vas en goed. Dit was toe ’n betoger wat homself aan die stuurwiel vasgeboei en die bus gekaap het. Ek dink Ronnie Potgieter (een van die Bokke se voorrymanne) het hom nog opgefoeter.”

Toe die regte busdrywer daar aangehardloop kom met ’n groot knyptang, moes die Bokke net keer. Hulle het gedink hy wou die boeie afknip, toe mik hy vir die betogers se arms!

Maar terug na Wallis, die rugby en die modder.

“Ons het daardie dag uitstekend gespeel,” sê Van der Merwe.

“Ons was tot in die laaste sekondes met 6-3 voor en die skeidsregter was glo op die punt om die eindfluitjie te blaas.”

Gareth Edwards duik met Hannes Marais om sy bene oor die doellyn vir die gelykmakende drie teen die Bokke. Foto: Springbok-sage

Maar toe kry die Walliese losskakel Barry John die bal en hy laat waai met ’n skop. Die Bok-vleuel Syd Nomis het die bal toegeval en uit die losskrum wat ontstaan het, het Wallis weer die bal gekry.

Hul skrumskakel en kaptein, Gareth Edwards, het hoek toe gemik en met die Bok-stut Hannes Marais om sy bene het hy vir die gelykmakende drie oorgeduik.

“Wallis was nie gelukkig om gelykop te speel nie, dit was eerder Suid-Afrika wat ongelukkig was om nie te wen nie,” het Edwards agterná op die onthaal gesê.

Billy Raybould, een van Wallis se senters, wou met Van der Merwe truie ruil.

“Ek het vir hom gesê ek sal vir hom my trui waarin ek my toerwedstryde gespeel het gee, maar ek wou nie die trui waarin ek my eerste toets gespeel het, weggee nie,” sê Van der Merwe.

Raybould het ingestem en Phantom, soos Van der Merwe ook destyds bekend gestaan het, kon daarom hierdie week met albei toetstruie vir ’n foto poseer.

* Sy bynaam het Van der Merwe glo nie gekry omdat hy soos ’n skim deur gapings kon glip nie, maar omdat hy as Matie-student die een keer ná ’n partytjie soos ’n groot speld in ’n hooimied verdwyn het!

Meer oor:  Bokke  |  Warren Gatland  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Rooi Drake  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.