Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke glo tuisreeks teen Leeus kwyt

Nog ’n dag, nog ’n moontlike scenario vir die Britse en Ierse Leeus se toer.

In kontras met bespiegelinge dat die Leeus-toer in Suid-Afrika in leë stadions beslis sal word, is daar hardnekkige gerugte in Engelse rugbykringe dat dié toer vir die eerste keer in die geskiedenis in die Verenigde Koninkryk gehou sal word.

Warren Gatland, die Leeus se hoofafrigter. Gaan sy span later vanjaar tuisveldvoordeel teen die Springbokke hê? Foto: Getty Images

Trouens, thetimes.co.uk het die naweek berig dit is byna ’n uitgemaakte saak dat die Springbokke nie in Julie en Augustus teen dié beroemde toerspan tuisveldvoordeel sal hê nie.

Die verwagting is dat die Leeus-raad en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) eersdaags gesamentlik sal aankondig dat die toer noorde toe skuif weens plaaslike Covid-19-struikelblokke.

Ook dat ’n vierde toets beplan word. Hoewel die Ierse regering glo nog goedkeuring moet gee, word toetse op Twickenham, Murrayfield, in die Principality-stadion in Cardiff en die Aviva-stadion in Dublin in die vooruitsig gestel.

Dié wending kom kort nadat die Aussies se aanbod om Doer Onder gasheer te wees vir die toetsreeks deur die Leeus van die hand gewys is.

Om die toer na 2022 uit te stel, is vanweë ’n propvol rugbykalender steeds nie ’n oorweging nie.

Soos sake tans daar uitsien, sal ’n vergrote Springbok-groep in Londen of Dublin saamtrek na afloop van die Bulle, Leeus, Haaie en Stormers se deelname aan die Reënboogbeker-kompetisie.

Daar word gehoop dat dié reeks, wat ’n voorloper van die nuwe Pro16-kompetisie is, op 17 April kan begin en dat die voorste twee spanne op 19 Junie in ’n eindstryd sal speel.

Die Bokke sal dan na afloop hiervan in alle erns vir die toer begin voorberei.

Jake White, hoofbreier van die Bulle, het Maandag gesê hy verwag dat dié franchise ’n hele paar spelers in Brittanje sal agterlaat vir nasionale diens. Hy glo ook die Reënboogbeker-kompetisie sal beslis voortgaan.

“Hoe maak jy seker die Bokspan is gereed (om teen die Leeus te speel)? Daar moet rugby wees tussen nou en Julie,” sê hy.

“Daar is nog nie finaliteit nie, maar ons verwag dat die plaaslike franchises teen mekaar sal speel en dan almal oorsee sal gaan vir ’n reeks wedstryde teen die spanne daar.”

Wanneer die Bokke agterbly, sal die res hier met die Curriebeker-kompetisie begin, sê White.

“Dit is hoekom dit nou so belangrik is om ons diepte in die voorbereidingsreeks te toets.”

• Die Blou Bulle Maatskappy (BBM) het intussen Maandag bevestig die Bok-flank Marco van Staden het ’n kontrak met die Leicester Tigers gesluit. Hy verlaat die Bulle aan die einde van Junie.

White het groot lof vir dié klipharde kantman.

“Marco is ’n fenomenale speler en op die oomblik waarskynlik die mees afgeronde nr. 6-flank in wêreldrugby,” sê hy.

“Dit gee jou gemengde gevoelens, want jy wil nooit iemand van daardie kaliber verloor nie, maar ek is ook trots op die speler wat hy geword het. Hy gaan ’n enorme bate vir Leicester wees.”

Meer oor:  Bokke  |  Britse En Ierse Leeus  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.