Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke het grootste agting vir All Blacks
Die Springbok-haker Malcolm Marx en die slotte Lood de Jager (links) en Franco Mostert in ’n ligte luim op die oefenveld voor Saterdag se toets in die Rugbykampioenskap teen die All Blacks. Foto: Getty Images

Die eerste keer in tien jaar in Nieu-Seeland en die eerste oorwinning nóg in die Westpac-stadion oor die All Blacks. Dit was beslis betekenisvol, het Matt Proudfoot, voorspeler-afrigter van die Springbokke, Dinsdag oor Suid-Afrika se opskudding verlede jaar oor die wêreldkampioen in die Nieu-Seelandse hoofstad gesê.

Dié verrassende oorwinning van 36-34 oor die All Blacks in die Rugbykampioenskap is vandeesweek ’n gewilde besprekingspunt in die aanloop tot Saterdag se herontmoeting.

Die hoogtepunt van die Springbokke se 2018-seisoen was ’n skokoorwinning oor die All Blacks in Wellington. Foto: Getty Images

“Dit is seker ’n geval van elke hond kry sy dag. Ons kan ons wel nie te veel daaraan steur nie, maar dit was betekenisvol in die lig van Suid-Afrikaanse rugby wat in 2018 ’n nuwe rigting ingeslaan het,” het Proudfoot gesê.

Die Bokke het ’n paar weke ná die heldedade so byna weer daarin geslaag om die Kiwi’s op Loftus Versfeld te klop.

’n Drie in die 79ste minuut deur die plaasvervanger Ardie Savea het die All Blacks met 32-30 laat seëvier nadat die tuisspan in ’n stadium met 23-6 voor was.

“Dit (die vertonings) was belangrik om die groep die gerusstelling te gee dat daar vordering is.

“Daar is nou ’n maand of twee voordat die Wêreldbeker-toernooi begin en ons het nog baie werk oor.”

Proudfoot sê die groep is steeds in ’n boufase, met enkele spelers wat nog nooit nie of lanklaas teen Nieu-Seeland gespeel het.

“Dit is in terme van ons WB-veldtog ideaal om daardie spelers hier teen die All Blacks bloot te stel aan die detail en intensiteit wat nodig is op dié vlak.”

Hoewel die All Blacks Saterdag in Buenos Aires ’n taamlik onoortuigende oorwinning oor Argentinië behaal het, is Proudfoot vol lof vir die Kiwi’s.

Die All Blacks is sonder verskeie groot name soos die kaptein, Kieran Read, en Sam Whitelock Argentinië toe.

“Ek sou gelukkig gewees het om daarheen te gaan en te wen teen so ’n deurwinterde internasionale span.

“Dat hul kultuur en ingesteldheid só vinnig tuisgebring kan word wanneer nuwelinge speelkans kry, is merkwaardig.

“Hulle het ’n slim afrigtingspan en hul plan sal waarskynlik baie ooreenstem met die een teen ons in Pretoria verlede seisoen.”

Proudfoot benadruk hulle het die grootste agting vir die All Blacks.

“Wanneer jy teen Nieu-Seeland in sy agterplaas speel, moet jy respek hê vir die uitdaging wat dit bied.”

Wanneer jy teen Nieu-Seeland in sy agterplaas speel, moet jy respek hê vir die uitdaging wat dit bied.
Matt Proudfoot

Die Bok-haker Malcolm Marx het aan rugbyskrywers gesê hoewel die Springbokke beslis nie die gunstelinge is nie, steur hulle hulle nie daaraan nie.

“Die All Blacks is al vir agt, nege jaar die voorste span ter wêreld. Ons fokus is eerder op onsself en dit waarop ons kan verbeter.”

Marx is gevra of hy Bongi Mbonambi as ’n groter bedreiging in sy posisie beskou nadat die Bokke se “naasbestes” die afgelope Saterdag korte mette van die Wallabies gemaak het.

“Nee, ons is ’n span. Dit is buitendien nooit jou trui nie. “Ons almal het hard gewerk die laaste drie of vier weke en die oorwinning bring selfvertroue in die groep.”

Rugbykampioenskap: Puntelys

Meer oor:  Matt Proudfoot  |  Malcolm Marx  |  Nieu-Seeland  |  Wellington  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.