Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke het nie ’n slot-krisis – Matfield
Die beseringspook het ’n groot voorliefde vir die Springbok-slot Lood de Jager. Foto: Getty Images

Dit sal ’n groot terugslag wees om die Britse en Ierse Leeus sonder Lood de Jager aan te durf, maar dit beteken nie die Springbokke het ’n slot-krisis nie.

So sê Victor Matfield, die mees ervare Bok van alle tye.

Hy sê dat iemand soos Franco Mostert, wat al in 39 toetse gespeel het, ’n meer as skaflike plaasvervanger vir De Jager in die nr. 5-trui is.

De Jager het verlede week vir die soveelste keer teëspoed met beserings gehad toe hy in ’n oefening van die Sale Sharks sy been gebreek het.

Rapport het berig die voormalige slot van die Bulle het ook sy knieskyf beseer.

Dit sal in die komende weke duidelik word of De Jager, wat onlangs sy terugkeer gemaak ná drie groot skoueroperasies in die bestek van 18 maande, in Julie en Augustus in die toetsreeks teen die Leeus sal kan speel.

Victor Matfield glo die jong Bulle-slot Ruan Nortjé is ’n toekomstige Bok. Foto: Gallo Images

Matfield sê dit is baie hartseer dat De Jager weer beseer is.

“Ek voel baie jammer vir hom. Ek het die voorreg gehad om in vier Wêreldbeker-toernooie te speel, maar het net een keer teen die Leeus te staan gekom.

“Dit is nie iets wat sommer twee keer oor ’n ou se pad kom nie.

“Ek beskou Lood as die voorste nr. 5-slot in wêreldrugby en hy sou ’n groot impak in die lynstane gehad het.

“Dit sal werklik jammer wees as die Leeus-reeks hom nie beskore is nie.”

Dit is ook nog nie seker wanneer RG Snyman, wat saam met Mostert die Springbokke se plaasvervanger-slotte in die Wêreldbeker-eindstryd was, weer kan speel nie.

Snyman het nog nie weer opgetôk sedert hy in Augustus in sy Pro14-debuut vir Munster ’n ernstige kniebesering opgedoen het nie.

Johann van Graan, Munster se hoofafrigter, het Maandag in ’n Whatsapp-boodskap gesê daar is nog nie ’n terugkeerdatum vir Snyman nie.

Hy kan, soos De Jager, in ’n stryd teen tyd gewikkel wees om sy spelpeil voor Junie te herwin.

Matfield sê hy glo ’n talentvolle speler soos Snyman behoort die Bok-groep te haal, al is hy nie heeltemal op sy beste nie.

“Eben (Etzebeth) kies homself en Franco is baie ervare en goed in die lynstane. Dit is steeds ’n baie goeie kombinasie.

“As Lood en RG nie oorweeg kan word nie, is daar plaaslike slotte soos JD Schickerling en Ruan Nortjé wat betrek kan word.

“Schickerling word as ’n 5-slot gebruik, maar ek dink hy is uit en uit ’n 4-slot. Hy is lekker groot en sterk.

“Ruan staan uit onder die 5-slotte. Hy het die laaste jaar sterk na vore getree en jy kan gaan kyk sy statistieke, veral in die lynstane.”

Daar is kommer dat die span van Jacques Nienaber die reeks teen die Leeus koud en onvoorbereid kan ingaan. Weens die Covid-19-pandemie het die span nog nie een toets gespeel sedert Nienaber in Januarie 2020 as die nuwe Springbok-afrigter aangewys is nie.

“Ek verwag dat daar gehou sal word by dieselfde span wat die Wêreldbeker gewen het. Dit is ’n ervare en gevestigde span, maar die vraag is hoeveel tyd Jacques gaan hê om die span voor te berei,” sê Matfield.

Meer oor:  Lood De Jager  |  Springbokke  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.