Dit was die tennislegende Billie Jean King wat op ’n dag gesê het sy beskou dit nie as ’n mislukking wanneer sy as ’n verloorder van die baan gestap het nie. Sy het dit eerder as navorsing beskou.

Mzwandile Stick Foto: Gallo Images
Die navorsing oor die Springbokke se vertonings die seisoen wys die span is minder as ’n jaar voor die Wêreldbekertoernooi in ’n gunstige posisie, meen Mzwandile Stick, die Bok-hulpafrigter wat gemoeid is met die span se aanvallende spel.
Die nederlaag Saterdag in Londen teen Engeland was ’n teleurstelling, maar dit het ook gewys die Bokke is beslis op koers om volgende jaar ’n aanspraakmaker te wees op dié toernooi, sê hy.
“Ons was ongelukkig ons eie grootste vyand teen die Engelse. Daar was soveel goeie geleenthede en hoewel ons afronding swak was, het dit gewys dat ons iets reg doen,” sê Stick.
In die eerste seisoen onder die nuwe hoofafrigter, Rassie Erasmus, het verskeie opkomende sterre vanjaar hul eerste treë in internasionale rugby gegee.
“Ek dink ons is werklik geseën met die talent wat daar in die groep is. Onder die buite-agterspelers het Sbu (Nkosi) en Aphiwe (Dyantyi) uitstekend gevaar vanjaar en ook Makazole (Mapimpi) toe hy ’n kans gekry het.
“Dink ook aan Cheslin (Kolbe) wat kort voor die Wellington-toets teen die All Blacks hom by ons aangesluit het en die vertoning wat hy daardie dag gelewer het.
“Verlede Saterdag het Damian Willemse op heelagter en Ivan van Zyl (skrumskakel) voor 80 000 mense gespeel en hulle het albei goed gevaar.”
Faf is ’n speler van wêreldgehalte en die ervaring wat hy hier in die Noordelike Halfrond opgedoen het, kan nie gering geskat word nie.
Mzwandile Stick
Stick sê hoewel dit nog nie op die telbord wys nie, is die 2018-Springbokke beter toegerus in baie afdelings.
“Ons het uit die staanspoor geweet ons het ’n agterstand onder die hoë bal en veral hier in Europa. Dit raak ál beter en dit is bemoedigend om te sien hoe die ouens se selfvertroue groei.”
Erasmus het ná Saterdag se toets vir veral Nkosi lof gehad vir die wyse waarop hy onder die hoë bal meegeding het.

Faf de Klerk slyp saam met die Bokke in Parys, Frankryk. Foto: Gallo Images
Daar is ondanks die teëspoed op Twickenham nie sprake van op moedverloor se vlakte sit nie, sê Stick.
“Rassie het ’n omgewing geskep met ’n gesonde balans wat die spelers die vryheid gee om verantwoordelikheid te neem. Jy kan dit veral sien met die leiding wat iemand soos Handré Pollard neem. Ons weet dit was nie ons beste poging nie (teen Engeland).”
Teen die Franse is bestendigheid en kliniese afronding die sleutel tot welslae.
“Om teen Frankryk in Parys te speel is altyd moeilik. Hulle speel met baie passie en energie voor hul ondersteuners en fisiek met ’n speler soos Mathieu Bastareaud.”
Die skrumskakel Faf de Klerk sal volgens alle aanduiding terug wees agter die pak en Stick sê sy bydrae sal van groot belang wees.
“Faf is ’n speler van wêreldgehalte en die ervaring wat hy hier in die Noordelike Halfrond (by die Sale Sharks) opgedoen het, kan nie gering geskat word nie.”