Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke kan gedy in Noorde, sê Vlok

Vlok Cilliers, die oud-Springbok wat nou werk as Frankryk se skopafrigter, meen Suid-Afrikaanse rugby sal baie baat deur by die Sesnasiesreeks in te skakel en sy verhouding met Nieu-Seelandse rugby om toere te bou.

Selfs dié land se ekonomie kan aansienlik daardeur baat, sê Cilliers, want ondersteuners van die Noordelike Halfrond se grootmoondhede volg hul spanne in duisende.

Vlok Cilliers meen Suid-Afrika kan baat deur by die Sesnasiesreeks aan te sluit. Foto: Gallo Images

“Ek dink Suid-Afrika sal geweldig baie baat deur deel te word van die Sesnasiesreeks, want die gehalte van die rugby is ongelooflik,” sê Cilliers.

“Jy speel ook in Europa se winter teen spanne soos Engeland en Ierland in nat toestande. Jy word op ander vlakke daardeur getoets, wat goed is vir jou rugby. Dis in die middel van die seisoen in die Noordelike Halfrond, wat beteken dat jy daardie spanne op volle sterkte aantref.”

Cilliers meen die Sesnasiesreeks se vermoë om yslike skares te lok is gesetel in die feit dat spanne nie in een seisoen tuis én weg teen ’n ander speel nie. ’n Engelse ondersteuner sal dus net een keer elke twee jaar die geleentheid hê om ’n toets teen Frankryk op Twickenham te kyk.

In die Rugbykampioenskap speel Suid-Afrika, Australië, Nieu-Seeland en Argentinië met die uitsondering van Wêreldbeker-jare elke seisoen tuis en weg teen mekaar.

Cilliers meen dit kan omseil word deur op dieselfde beginsel as die Sesnasiesreeks te speel of die Rugbykampioenskap slegs elke twee jaar te speel, maar erken dit sal ’n probleem op die internasionale kalender skep.

Ongeag meen hy dit is nie bevorderlik vir bywoningsgetalle in stadions dat die lande jaarliks tuis en weg teen mekaar speel nie.

“Ek het nie ’n antwoord nie, maar kan net sê dat ek oorweldig was deur die grootheid van die Sesnasiesreeks. Toe ons (Frankryk) teen Wallis gespeel het, was daar 15 000 Franse ondersteuners wat ons gevolg het. Vir ons toets teen Skotland in Edinburg was daar 10 000,” sê Cilliers.

“Die paviljoene is gepak en mense is passievol. Ek vra myself waarom die bywoningsgetalle só goed is. Is dit die uniekheid van die kompetisie of die feit dat jy net elke twee jaar kan sien hoe jou span teen ’n ander in jou land speel?”

Met die kultuur van ondersteuners wat hul spanne volg, voorspel Cilliers ’n “yslike hupstoot vir die ekonomie” as Suid-Afrika by die Sesnasiesreeks aansluit.

Cilliers meen die Sesnasieslande kan ontvanklik wees vir só ’n plan.

“Ek het die idee al by die Franse getoets en hulle sê hulle is só gewoond aan die Sesnasies in sy huidige formaat dat hulle nog nie daaraan gedink het nie. Maar hulle kan nie dink dat dit sleg kan wees vir die Sesnasiesreeks as ’n groot span soos Suid-Afrika daarby aansluit nie,” sê hy.

Die moontlikheid van toere tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland maak Cilliers opgewonde.

“Die Britse en Ierse Leeus kom besoek ons een keer elke 12 jaar en dis iets uniek wat jy nie wil misloop nie. Dis daardie tipe konsep waaraan ek dink. Laat die All Blacks kom toer vir ’n reeks van drie toetse. Dan kan hulle ook in die middel van die week teen provinsiale spanne speel, soos in die ou dae,” sê hy.

Meer oor:  Bokke  |  Springbokke  |  Vlok Cilliers  |  Sesnasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.