Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Tuistes vir Bokke in noorde én suide

Wat daarvan as die Springbokke in die toekoms in ’n uitgebreide Sesnasies-reeks én die Rugbykampioenskap speel?

Hoekom móét Suid-Afrikaanse rugby kies tussen die Suidelike of Noordelike Halfrond, vra Eugene Henning, uitvoerende hoof van MyPlayers.

Die Springbok-agtsteman Duane Vermeulen word in die Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland vasgevat. Gaan dié spanne mekaar iewers in die toekoms jaarliks in ’n Sewenasies-reeks aandurf? Foto: Getty Images

Daar is tans ’n warm diskoers in wêreldrugby oor die toekomstige tuiste van Suid-Afrikaanse rugby en die wêreldkampioene, die Springbokke.

In sommige kringe word daar voorspel dit is onafwendbaar dat ons rugby in die noorde sal wortel skiet en die Bokke vorentoe deel van die bestaande Sesnasies-reeks word.

MyPlayers, die organisasie wat die land se beroepspelers verteenwoordig, sê die antwoord lê straks daarin om noord én suid ’n voetspoor te hê.

“Die idee is sekerlik nie dat daar ses, sewe sterk lande in ’n kompetisie speel (Sesnasies), terwyl ’n ander kompetisie (Rugbykampioenskap) verswak word nie.

“Hoekom kan die Springbokke nie in albei meeding nie? “Dit hoef nie die een óf die ander te wees nie,” sê Henning.

Met die groot gros Suid-Afrikaanse spelers in Europa kan dit sin maak, meen hy.

“Van ons Bokke soos Eben Etzebeth, Handré Pollard, Lood de Jager en Faf de Klerk sal nou beskikbaar wees om vir Suid-Afrika in ’n Sewenasies-reeks te speel.

Hoe wys sal dit wees om die belegging en vennootskap van die afgelope 25 jaar in die Sanzaar-kompetisies net so op te gee?
Eugene Henning

“Later die jaar is dit oudergewoonte die Rugbykampioenskap, terwyl die jaareindtoer dan wegval. So daar sal nie meer toetse in ’n kalenderjaar gespeel word nie.”

Dit sal wel beteken dat die Sewenasies- en Superrugby-reeks oorvleuel.

“Die realiteit is dat ons voorste spelers lank reeds nie meer Superrugby speel nie, maar dit is vir bate-ontwikkeling belangrik om ’n voetspoor in die Superreeks én ’n kompetisie soos die Pro14 te hê.”

Henning sê Suid-Afrika is uniek dat hy geografies so geleë is dat hy in die noorde en suide kan meeding.

“Ek glo dit is ook in ons belang dat rugby in Nieu-Seeland, Australië en Argentinië sterk bly.

Eugene Henning, uitvoerende hoof van MyPlayers. Foto: Getty Images

“Die geld is nou in die noorde, maar wat gebeur in die volgende 25 jaar?

“Nieu-Seeland en Australië is slim rugbylande en kan vorentoe weer toonaangewend wees. Dan is ons dalk spyt dat ons geloop het.

“Hoe wys sal dit wees om die belegging en vennootskap van die afgelope 25 jaar in die Sanzaar-kompetisies net so op te gee?”

Die Rugby Players Association (RPA), MyPlayers se eweknie in Engelse rugby, het intussen gewaarsku die plaaslike spelers kan in opstand kom as die Springbokke tot die Sesnasies-reeks gevoeg word.

Damian Hopley, uitvoerende hoof van die RPA, het aan rugbypass.com gesê Wêreldrugby, wat verlede jaar misluk het met sy beplande Nasieskampioenskap, behoort ’n goeie gevallestudie te wees vir planne om aan die Sesnasies-reeks te verander.

Hy sê die Noordelike Halfrond se rugbykalender is reeds propvol en dat ’n Sewenasies-kompetisie geweldige druk op spelers sal plaas.

As ’n span byvoorbeeld in die openingsnaweek ’n loslootjie het, sal hy daarna ses toetse op ’n ry moet speel.

“Die Nasieskampioenskap het ’n stil dood gesterf toe sewe rugbylande se kapteins gesê het die spelers se welstand sal nie voorop gestel word nie.

“Dit het ’n baie duidelike boodskap gestuur dat ons almal vennote in die spel is.

“Duidelik is die spelers die belangrikste, want jy het ’n span nodig om op te draf.

“Dit sal dus dwaas wees om ondeurdagte besluite oor die Sesnasies te neem,” waarsku Hopley.

Meer oor:  Springbokke  |  Bokke  |  Rugbykampioenskap  |  Superrugby  |  Sesnasies  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.