Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Lood in stryd teen tyd vir WB-toernooi

Lood de Jager, Springbok-slot en kaptein van die Bulle, se Superrugby-seisoen is iets van die verlede.

’n Mens sou verwag dat daar ná Saterdag se voortreflike wegsege in die Superreeks oor die Leeus, geen sprake van ’n Blou Maandag by Loftus Versfeld sou wees nie.

’n Skouerbesering het Lood de Jager se seisoen kortgeknip. Foto: Gallo Images

Dié slegte nuus is egter ’n groot terugslag vir die Bulle se aanslag in dié kompetisie, terwyl die Springbok-bestuur ook op hete kole oor sy beskikbaarheid vir die Wêreldbeker-toernooi in Japan sal wees.

De Jager het verlede naweek sy skouer in Buenos Aires teen die Jaguares beseer en daar is aanvanklik aangedui dat hy net twee weke langs die kantlyn sal wees.

Die besering is erger as wat verwag is en hy sal vandeesweek geopereer word.

Alfons Meyer, uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy (BBM), het bevestig dat De Jager nie weer vanjaar sal kan Superrugby speel nie.

Die Bulle se spandokter, Herman Rossouw, glo egter De Jager kan nog reg wees vir die WB-toernooi. Volgens hom sal sy hersteltydperk tussen vier en vyf maande wees. Dít beteken hy sal iewers in Julie weer kan speel. Die WB-toernooi begin in September. 

Volgens Meyer is dit ’n terugslag vir die Bulle, maar is hy bemoedig deur die vertonings wat Eli Snyman en Jason Jenkins die afgelope naweek teen die Leeus gelewer het.

“Albei ons slotte, Eli en Jason, het baie goed teen die Leeus gespeel Saterdag en RG Snyman sal ook oor sowat drie weke weer kan speel.”

De Jager het die laaste ruk groot teëspoed met beserings.

Hy het in Mei verlede jaar ’n borsspier geskeur toe die Bulle op Loftus met die Haaie kragte gemeet het.

Hy was voor die besering uitstekend op dreef in die Bulle se agttal.

Hoewel De Jager die daaropvolgende vyf maande geen rugby gespeel het nie, het die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, hom wel vir die jaareindtoer gekies.

Hy was ’n plaasvervanger in die toetse teen Engeland en Skotland, maar was verstaanbaar nie naby aan wedstrydskerp nie.

Sy herstel sal nou fyn deur Erasmus dopgehou word, want sou hy nie betyds wedstrydfiks wees nie, sal hy waarskynlik sy WB-planne moet wysig.

Indien fiks, is De Jager waarskynlik ’n seker keuse om die WB-groep saam met slotte soos Eben Etzebeth en Franco Mostert te haal.

Snyman behoort ook die WB-paal te haal ná sy goeie vertonings verlede jaar, terwyl die veelsydige Pieter-Steph du Toit ook op slot oorweeg kan word in die WB-toernooi. Sy voortreflike spel as steelkantflank sal dit egter ’n onwaarskynlike opsie maak.

Met onsekerheid oor De Jager, sal ander opkomende slotte nog meer motivering hê om ook ’n WB-kleim af te steek.

Spelers soos Jenkins en JD Schickerling (Stormers) sal gewis alles wil uithaal in vanjaar se Superrugby-reeks.

Meer oor:  Beseer  |  Bokke  |  Lood De Jager  |  Bulle  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.