
Die Poemas vier Saterdag hulle oorwinning teen die All Blacks. Foto: Getty Images
Die Argentynse Poemas, wat die All Blacks gister met 25-15 in Sydney verras het, en ’n Britse Barbarian-span is onder die spanne wat as teenstanders vir die Springbokke se wedstryde volgende jaar in Bloemfontein genoem word.
As deel van SA Rugby se beplanning vir volgende jaar se Bok-wedstryde voor die besoek van die Britse en Ierse Leeus, word twee wedstryde en ’n oefenkamp vir Bloemfontein oorweeg.
Mark Alexander, president van SA Rugby, het onlangs aan van die land se rugbyskrywers bevestig dat die Bokke in drie of vier wedstryde voor die besoek van Warren Gatland se span betrokke sal wees.
SA Rugby wag volgens Alexander onder meer vir Wêreldrugby se goedkeuring voordat daar bevestiging sal wees wie die teenstanders is en waar die wedstryde gaan plaasvind.
Die Britse en Ierse Leeus se eerste wedstryd van volgende jaar se toer na Suid-Afrika is op 3 Julie in die Kaap teen die Stormers. Die eerste toets tussen die Bokke en Gatland se span is op 24 Julie in Johannesburg.
Die beplande wedstryde voor die toetse teen die Britse en Ierse Leeus sal ’n goeie vuurdoop vir die Bokke se nuwe fiksheidskundige, Andy Edwards, wees.
Hy is sedert 1 Augustus in SA Rugby se diens nadat hy Aled Walters vervang het. Walters is deesdae in diens van die Engelse klubspan Leicester Tigers.
Edwards het sy merk by Saracens gemaak, waar hy van 2006 af betrokke was. Hy het daar ’n stewige bydrae gelewer in die Engelse klubspan se verowering van titels in die Engelse Premierliga en ander Europese toernooie.
Hy was ook die fiksheidsghoeroe van Engeland se A-span, die Saxons.