Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke met moeilike vrae in Japan gepeper

Met die etiket as een van die gunstelinge om die Wêreldbekertoernooi (WB) te wen om die nek, raak dinge daagliks warmer vir die Springbok-rugbyspan.

Eben Etzebeth (voor) op die oefenveld in Japan. Sy beweerde betrokkenheid by ’n voorval in Langebaan het nie ongesiens verbygegaan by buitelandse joernaliste by die WB-toernooi nie. Foto: Gallo Images

Joernaliste van ander lande probeer – in wat na doelbewuste pogings lyk – die Bokke se onlangse probleme van die speelveld af uitbuit.

Matt Proudfoot moes Dinsdag vir die beeld van Suid-Afrikaanse rugby skerm nadat ’n Ierse joernalis hom op ’n nuuskonferensie gevra het of die gebruik van verbode middels ’n probleem in SA rugby is. Die joernalis het indirek na die Bok-vleuel Aphiwe Dyantyi se voorval verwys.

Maandag moes Pieter-Steph du Toit ook ’n laagvat van ’n joernalis trotseer wat wou weet hoe die spelers op gebeure van die veld af reageer. Oorsese joernaliste het kennis geneem van die Eben Etzebeth-voorval in Langebaan. Dié Bok-slot word van aanranding en rassistiese uitlatings beskuldig.

Du Toit en Proudfoot het albei hul vrae berekend geantwoord.

“Ek is die voorspelerafrigter. Jy moet die vraag aan die administrateurs vra. Ek het nie die data (oor hoeveel spelers vir verbode middels positief toets) om dit te beantwoord nie,” sê Proudfoot.

“Ek dink die beeld van Suid-Afrikaanse rugby word op die veld uitgedra. Ons is ’n mededingende nasie. As jy kyk na ons sewesspan, die juniors, die vrouespan en die Bokke, dan is dit die beeld van Suid-Afrikaanse rugby wat gehandhaaf moet word.”

Du Toit het Maandag kort en kragtig geantwoord dat die spelers verskillend op situasies reageer.

Matt Proudfoot, die Springbokke se voorspelerafrigter. Foto: Gallo Images

Proudfoot-hulle is bewus dat die sielkundige kopspeletjies voor Saterdag se Groep B-wedstryd teen die All Blacks in Jokohama begin het.

Die voorspelerafrigter van die Bokke het ook ’n vraag van ’n Nieu-Seelandse joernalis oor hoe ’n groot leemte Brodie Retallick se afwesigheid in Saterdag se toets sal laat, met ’n breë glimlag beantwoord.

“Is jy seker hy (Brodie) gaan nie speel nie? Meneer (Steve) Hansen het in sy laaste nuusverklaring gesê hy het ’n volle groep om uit te kies. Ek sal nie verbaas wees as hulle ’n verrassing (met Brodie) in die mou voer nie.”

Retallick het sy skouer in die toets in Wellington teen die Bokke beseer. Onsekerheid bestaan oor of hy reg is.

“As hy speel, is hy ’n groot speler vir hulle. Hy is ’n speler van wêreldgehalte. Speel Brodie wel nie, het hulle uitstekende plaasvervangers in Scott Barrett en Patrick Tuipulotu,” sê Proudfoot.

“Die All Blacks het ’n uitstekende agttal. Dit help dat hulle spelers soos Sam Whitelock en Kieran Read in Brodie se moontlike afwesigheid het. Hul agttal sal (Saterdag) inklim.”

Proudfoot glo die uitslag van Saterdag se toets is belangrik, maar albei spanne sal ongeag daarvan perspektief behou.

“Deur dié wedstryd te wen, sal jy nie skielik die groot gunsteling wees om die Wêreldbeker te wen nie. Net so sal jou veldtog nie ontspoor as jy verloor nie. Daar is soveel spanne wat uitstekend voorberei het,” sê hy.

“Ons geniet dit net om teen die All Blacks te speel. Ons kyk nie verder as dié wedstryd nie. Ons verwag dat Nieu-Seeland met iets nuuts vorendag sal kom. Hulle het aan sekere aspekte van hul aanval gewerk.”

* Trevor Nyakane het Dinsdagmiddag saam met sy spanmaats aan hul lynstaanwerk op die velde van die Shining Arcs, ’n Japannese klubspan, geoefen.

Bevestiging of hy Saterdag teen die All Blacks ná sy kniebesering sal speel, sal Woensdag verkry word wanneer Rassie Erasmus sy 23-tal aankondig.


Meer oor:  Matt Proudfoot  |  Bokke  |  Springbokke  |  Japan  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.