Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke moet ligloop vir 'Knoffelslak' Poite
Romain Poite het nie gehuiwer om Pablo Matera in 2015 in Durban met ’n geelkaart te straf toe die Poemas teen die Springbokke gespeel het nie. Foto: Gallo Images

Die jaar 2017 is sover ’n grote vir “die Knoffelslak”.

Knoffelslak? Dis een van die meer publiseerbare byname waarmee die Franse skeidsregter Romain Poite deur ontstoke Suid-Afrikaners gedoop is nadat hy die Springbok-haker Bismarck du Plessis in 2013 met ’n rooikaart van Eden Park in Nieu-Seeland in ’n toets teen die All Blacks afgestuur het.

Hy het Du Plessis in daardie toets verkeerdelik met ’n geelkaart gestraf in die eerste helfte toe hy die losskakel Dan Carter hard geduik het. Poite het gedink dit was ’n skouerloop.

In die tweede helfte het Du Plessis nog ’n oortreding begaan en Poite het hom ’n tweede geelkaart gewys. En toe die rooie, want twee geles maak mos een rooie.

Poite is seker al siek en sat vir daardie ou storie. Hy het intussen weer wedstryde hanteer waarin die Bokke gespeel het en hom redelik knap van sy taak gekwyt.

En toe breek 2017 aan. Poite blaas in Februarie in die Sesnasies-wedstryd tussen Engeland en Italië op Twickenham en dis mos tóé dat die Italianers met hul ongewone taktiek verras.

Wanneer ’n Engelse speler gelak is, het geen ander Italianer kontak gemaak nie. Dít het beteken dat losskrums nie gevorm het nie en daar dus nie ’n onkantlyn was nie.

Poite vertel vir James Haskell en Dylan Hartley van Engeland dat hy die skeidsregter is, nie die afrigter nie. Foto: Getty Images

Dit het Italië se agtsteman en kaptein, Sergio Parisse, en die skrumskakel, Edoardo Cori, in staat gestel om na willekeur die Engelse skrumskakel, Danny Care, te ontsenu en te verhinder dat hy die bal uitgee.

Engeland se oorblufte spelers het luidkeels by Poite geprotesteer, waarop hy geantwoord het: “Ek is die skeidsregter, nie die afrigter nie.”

Dié wedstryd het skokgolwe deur die rugbygemeenskap gestuur en Eddie Jones, Engeland se afrigter, het skerp kritiek teen Poite uitgespreek.

“Ek het nog nooit ’n skeidsregter gesien wat sy perspektief in die sport so verloor het nie,” het Jones verklaar.

As Jones die naam “Knoffelslak” geken het, het hy dit dalk toe ook gebruik.

Vir weke het die kritiek soos woedende bye om Poite se kop gezoem.

En net toe sy hart meer rustig begin klop, besoek hy die Land van die Lang Wit Wolk, Nieu-Seeland.

En hy blaas in die derde en beslissende toets tussen die All Blacks en die Britse en Ierse Leeus in Auckland.

En hy ken nie ’n strafskop, wat die All Blacks die toets en die reeks in die doodsnikke kon laat wen het, toe nie.

Vandag nog is daar party kenners wat dink Poite was reg om ’n skrum toe te ken omdat ’n speler van die Leeus “per ongeluk” onkant was.

Steve Hansen, die All Black-breier, en Kieran Read, die kaptein, is maar net twee van die kritici wat heeltemal verward was oor Poite se beslissing.

Nou trek ons maar eers in Augustus en ’n mens kan maar net wonder wat die jaar nog vir Poite inhou.

Poite en Kieran Read gesels oor die omstrede beslissing wat die All Blacks dalk die toetsreeks teen die Britse en Ierse Leeus gekos het. Foto: Getty Images

Saterdag is hy die skeidsregter wanneer die Springbokke en die Argentynse Poemas mekaar in Port Elizabeth in hul eerste wedstryd in vanjaar se Rugbykampioenskap pak.

Die Poemas is nie vir hul goeie dissipline bekend nie. Vermom as die Jaguares het hulle vanjaar 161 strafskoppe in die Superreeks afgestaan. Vergelyk dit met 132 van die Rebels, die swakste span in die kompetisie, wat pal onder druk was.

Dan is die Jaguares ook met 12 geelkaarte, die naasmeeste in die reeks, gestraf.

’n Mens kan verstaan as daar dalk nou al ’n koue sweetjie op Poite se voorkop begin uitslaan.

Meer oor:  Bokke  |  Rugbykampioenskap  |  Romain Poite  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.