Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Parys: Bokke moet nóg ’n misoes systap
SA vs Frankryk

’n Oorwinning verlede Saterdag op Twickenham oor Engeland sou ’n betekenisvolle mylpaal in die Rassie Erasmus-tydvak gewees het.

Die 2018-seisoen – Erasmus se eerste jaar as Springbok-hoofafrigter – sou dan tot ’n groot mate onthou word vir die wegseges oor die All Blacks en Engeland.

Daar is natuurlik ander redes om te glo dat Erasmus die regte man is om die Bokke aanstaande jaar Japan toe te vat wanneer die heilige graal van wêreldrugby op die spel is.

Maar, nadat die toerspan op Twickenham teen ’n gelapte Engelse span nie ’n uitklophou kon plant nie, is daar groter druk op die Bokke Saterdagaand in Parys teen Frankryk.

Nog ’n moes-en-kon-wen-misoes en dit dreig om ’n seisoen van verlore geleenthede te word.

Daardie Wellington-opskudding in die Rugbykampioenskap teen die wêreldkampioen het Bok-ondersteuners weer ’n aptyt vir rugby gegee, maar gaan dit onthou word as die enigste ware hoogtepunt in ’n andersins onoortuigende seisoen?

Jacques Brunel, die Hane se afrigter, sê sy span móét wen om die Wêreldbeker-jaar met selfvertroue in te gaan.

Die besoekers is ewe desperaat.

“Ja, ons het al ’n paar goeie seges, maar ook teleurstellende vertonings gehad vanjaar. Daar was wedstryde wat baie naby was en ons kon net so maklik teen Nieu-Seeland verloor het (in Wellington). Ons is net so desperaat,” het Erasmus vandeesweek in die Franse hoofstad gesê.

Ons het Skotland en Wallis ook nog voor ons en ek sou graag al vier toetse wou gewen het. Maar nou is die doelwit drie uit vier.
Rassie Erasmus

“Ons het Skotland en Wallis ook nog voor ons en ek sou graag al vier toetse wou gewen het. Maar nou is die doelwit drie uit vier.

“Dit is nog ’n ent Wêreldbeker-toernooi toe, maar die laaste ding wat jy nou wil hê, is om in ’n afwaartse kurwe te beland,” het Erasmus gesê.

Die Springbokke kom teen ’n span te staan wat min tot g’n momentum of selfvertroue het nie.

In Junie, toe Frankryk laas gespeel het, het die Hane drie loesings by die All Blacks gekry.

Les Bleus het ook hul laaste ses toetse teen Suid-Afrika verloor.

Maar, soos altyd, weet niemand wat die Franse aanslag op die dag kan inhou nie.

Kom hulle by die Stade de France aan en hul is lus vir rugby speel, gaan dit keer kos. Wanneer die Franse skare eers op hul voete is, is die Hane bitter moeilik om te stuit.

Malcolm Marx (regs) en die veteraan-haker Schalk Brits vandeesweek op die oefenveld in Parys. Marx se ingooiwerk in die Stade de France sal onder die vergrootglas wees. Foto: Gallo Images
Handré Pollard se besluitneming én skopwerk sal dodelik moet wees as die Springbokke Saterdagaand in Parys weer op die wenpad wil kom.Foto: Gallo Images

Daar is al die week genoeg gesê oor die span se afronding op Twickenham, tog plaas Erasmus verstaanbaar ’n hoë premie op goeie uitvoering.

“Die toestande hier in die Noordelike Halfrond vereis ’n ander benadering en dit was goed dat ons soveel kanse geskep het verlede week. Die uiteinde was steeds dat ons die toets verloor het.”

Malcolm Marx, die Bokke se haker, se ingooie sal verstaanbaar in die kollig wees in die nadraai van die Twickenham-fiasko.

As ’n baldraer en -jagter het hy nie sy gelyke in internasionale rugby nie, maar daar is steeds ’n hardnekkige stigma oor sy lynstaanwerk.

Die Hane se losskakel, Camille Lopez, word in Franse rugbykringe as die groot gevaarman beskryf.

Sy direkte teenstander, Handré Pollard, skuld self sy span ’n beter vertoning en sy besluitneming kan dit reg of weg maak in ’n nat Stade de France.

Die spanne is:

Frankryk: Maxime Medard, Teddy Thomas, Mathieu Bastareaud, Geoffrey Doumayrou, Damian Penaud, Camille Lopez, Baptiste Serin, Louis Picamoles, Arthur Iturria, Wenceslas Lauret, Yoann Maestri, Sebastien Vahaamahina, Cedate Gomes Sa, Guilhem Guirado (k), Jefferson Poirot. PLAASVERVANGERS: Camille Chat, Dany Priso, Rabah Slimani, Paul Gabrillagues, Mathieu Babillot, Antoine Dupont, Anthony Belleau, Gael Fickou.

Suid-Afrika: Willie le Roux, S’bu Nkosi, Jesse Kriel, Damian de Allende, Aphiwe Dyantyi, Handré Pollard, Faf de Klerk, Warren Whiteley, Duane Vermeulen, Siya Kolisi (k), Franco Mostert, Pieter-Steph du Toit, Frans Malherbe, Malcolm Marx, Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS: Bongi Mbonambi, Thomas du Toit, Vincent Koch, RG Snyman, Francois Louw, Embrose Papier, Elton Jantjies, Cheslin Kolbe.

Skeidsregter: Nigel Owens (Wallis).

Assistent-skeidsregters: Matthew Carley (Eng), Tom Foley (Eng).

TV-skeidsregter: Rowan Kitt (Eng).

Afskop: 22:05 (SS 1, M-Net).

Meer oor:  Handre Pollard  |  Rassie Erasmus  |  Malcolm Marx  |  Parys  |  Frankryk  |  Suid-Afrika  |  Bokke  |  Jaareindtoer  |  Toets  |  Rugby  |  Hane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.