Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke ‘moet onwrikbaar glo’ in wenresep

As die Springbokke vroeg in November met die Webb Ellis-trofee as rugby se nuwe wêreldkampioen wil terugkeer na Suid-Afrika, sal hulle getrou moet bly aan die strukture wat so sorgvuldig oor die afgelope 18 maande gevestig is.

Dit is hoe Matt Proudfoot, dié span se voorspeler-afrigter, voel oor die Bokke se kans om suksesvol te wees in die toernooi.

Ondanks die swaard wat oor sy kop hang, was die Springbok-slot Eben Etzebeth Vrydag in ’n ligte luim voor sy span se vertrek na Japan. Beast Mtawarira hom dop, met Pieter-Steph du Toit (voor regs) wat ook breed glimlag. Die spelers agter wat duidelik sigbaar is, is (van links) Cheslin Kolbe, Faf de Klerk en Jesse Kriel. Foto: Deaan Vivier

“Ons moet net onwrikbaar glo in die plan wat ons uitgewerk het en dit toepas en ook verfyn,” het Proudfoot enkele ure voordat die span op die vliegtuig na Japan geklim het, gesê.

“Ons het die laaste 18 maande hard daaraan gewerk om ’n suksesresep te kry en indien ons dit kan toepas, en ook selfs daarop verbeter, is ons kans om die beker te wen, net so goed soos enige ander span s’n,” reken hierdie voormalige Skotse voorryman.

Proudfoot erken hy jeuk omtrent dat hierdie Wêreldbeker-toernooi moet begin.

“Ek sien baie uit daarna dat die bal aan die rol kan kom. Ek dink ons almal voel so. Dit was ’n tydsame en ook deeglike opbou na die toernooi, maar nou wil ons sien dat dinge aan die gang kom.

“Dit gaan ’n reis wees met sy hoogte- en laagtepunte. Jy moet jouself maar voorberei op voorspoed, maar ook teëspoed in die tydperk van die toernooi. Die voorbereiding was intens en deeglik, maar nou moet daardie planne in plek val,” sê hy.

Proudfoot het ’n deeglike kennis van die rugbytoestande in Japan, nadat hy as die vorige Bok-afrigter, Allister Coetzee, se regterhand daar afgerig het.

“Ek dink regtig hierdie het die potensiaal om die beste Wêreldbeker-toernooi te wees. In Japan is die mense baie ondersteunend met watter groot sportbyeenkoms daar ook al plaasvind en hulle gaan hierdie toernooi met passie en alles wat hulle het ondersteun,” sê hy.

Mark Alexander, die president van Saru, voel dit kan ’n heeltemal ander soort Wêreldbeker as voriges wees.

“Veral uit ’n kulturele oogpunt gaan daar ’n ander soort uitdaging wees. Daardie eerste wedstryd tussen ons en die All Blacks gaan ook wat die rugby betref ’n belangrike barometer wees,” sê hy.

Alexander glo daar is minstens ses lande wat met reg kan aanspraak maak op die beker. Hy voel ook Samoa, Tonga en Fidji hou potensieel ’n bedreiging en moenie geringgeskat word nie.

Meer oor:  Bokke  |  Mark Alexander  |  Springbokke  |  Matthew Proudfoot  |  Japan  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.