Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke neem ‘eienaarskap’ en prys Rassie

Eienaarskap. Dít blyk die nuwe gonswoord in die Springbokke se kamp te wees.

Met die span se terugkeer met die Rugbykampioenskapstrofee uit Argentinië Maandagoggend was hierdie woord heelwat op die span se mediakonferensie op die OR Tambo-lughawe gebruik.

“Die spelers moet die krediet vir die ommekeer in Springbokrugby kry. Dis hulle wat eienaarskap aanvaar het. Hulle speel met emosie vir die ondersteuners,” het Erasmus gesê toe hy gevra is wat die Bok-skip na kalmer waters gestuur het nadat dit ’n jaar of twee gelede vinnig op pad was om op die rotse te loop.

Rassie Erasmus (regs) gesels Maandag met die media nadat die span uit Suid-Amerika teruggekeer het. Langs hom sit die Bok-losskakel Handré Pollard. Foto: Gallo Images

“Dit is nie ek wat teen Kieran Read uitdraf nie, dit is Duane Vermeulen wat teen hom speel en ook Handré Pollard wat teen Richie Mo’anga en Beauden Barrett speel.

“Die opset daar bo (SA Rugby se ringkoppe) het ook nie verander nie. Dit is nog dieselfde uitvoerende hoof en spanbeamptes.

“Daarom gaan dit vir my oor die spelers en wat hulle op die veld vermag,” het hy ’n demper geplaas op baie van die eer wat hom as afrigter toekom.

Die spelers moet die krediet vir die ommekeer in Springbokrugby kry.
Rassie Erasmus

Al was Erasmus beskeie oor sy aandeel in die trofee wat op die tafel voor hom en van sy spelers gestaan het, het die spelers wel nie nagelaat om sy rol uit te lig nie.

“Hoe hy (Rassie) sy beplanning doen, is op ’n ander vlak,” sê Eben Etzebeth.

Die veteraan-stut Beast Mtawarira sê hy is eerlik as hy sê dat hy nog nie by ’n Springbokspan betrokke was waar die gees so goed soos in hierdie een is nie.

Volgens Vermeulen was dit eintlik maklik om die kaptein te wees. “Die senior spelers in die span weet presies wat hul rolle is en al waarna ek eintlik moes oplet, was om te roep wanneer die muntstuk opgeskiet is en om met die skeidsregter oor beslissings te praat.

“Elkeen in die groep werk hard daaraan om ons doelwit te bereik,” sê die losvoorspeler.

Die Boks-slot Eben Etzebeth Maandag in Johannesburg op ’n mediakonferensie. Hy het die span se breier, Rassie Erasmus, vir sy goeie kommunikasie met die spelers geloof. Foto: Gallo Images

Die woord “eienaarskap” was soos ’n refrein in elke speler se verduideliking oor hoe dinge by die Springbokke verander het sedert Erasmus die afrigter geword het.

“Elkeen is deeglik bewus wat die plan is en wat gedoen moet word om dit uit te voer. Die afrigter hou ons nie in die duister nie. Jy weet presies waar jy met hom staan. Dit is ’n openbaring en vir my baie opwindend om deel van hierdie opset te wees,” sê Mtawarira.

“Daar is geen ego’s in hierdie opset nie. Die wedywering vir plekke in die span is straf en ons is geseënd en in ’n baie gesonde situasie met hope talent.

“Daar is diepte in hierdie groep en elkeen is bereid om mekaar met raad en hulp by te staan. Daar is nie afguns tussen spelers nie en almal kom goed oor die weg en ondersteun mekaar. Selfs al ding ons om dieselfde trui mee,” het Mtawarira erken.

“Wat hierdie groep betref, word individue en hul behoeftes nie vooropgestel nie. Hier tel die groep en dit waarna ons as span streef,” sê hy.

Dit laat jou voel jy hoort hier en dit maak ’n groot verskil vir ons almal.
Eben Etzebeth

Vermeulen het darem erken dat die hare soms in die oefeninge waai en dat die ouens mekaar, wanneer straf geoefen word, soms verkeerd kan opvryf.

“Maar ons is volwasse genoeg om dinge dan later uit te praat en weer vriende te wees.

“Elkeen het insae in wat gebeur en hoe dinge gedoen moet word. Die verantwoordelikhede in die groep word goed gekanaliseer,” sê hy.

“Elkeen weet wat coach Rassie van ons verwag en hoe openlik en opreg hy met ons is. Hy hou ons deurgaans in die prentjie op ’n vlak wat ek nog nie voorheen in Springbokrugby ervaar het nie.

“Dit laat jou voel jy hoort hier en dit maak ’n groot verskil vir ons almal,” gee Etzebeth toe.

Meer oor:  Bokke  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.