Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke by WB-toernooi nie op SAUK te sien

Rugbyliefhebbers wat nie ingeteken is op DStv se heel beste pakket nie, sal maar by ’n vriend of hul naaste kroeg na die Wêreldbeker-rugbywedstryde moet gaan kyk.

Geen wedstryd gaan uitgesaai word op ’n kanaal wat beskikbaar is op DStv se goedkoper pakkette of enige van die SAUK se televisiekanale nie.

Kwagga Smith vroeër vanjaar in die Springbokke se gelykop-uitslag teen die All Blacks in aksie. Foto: Getty Images

Daar gaan nie eens radiokommentaar op die SAUK se radiostasies wees nie.

SuperSport het bevestig al 48 Wêreldbeker-wedstryde gaan op SuperSport 1 uitgesaai word.

Dié kanaal is net beskikbaar op DStv se duurste pakket, wat minstens R809 per maand kos.

Dit beteken net 1,5 miljoen huishoudings sal die toernooi, wat Vrydag in Japan begin, op televisie kan volg.

7,4 miljoen Suid-Afrikaners het DStv, maar die meeste van hulle is ingeteken op goedkoper pakkette met kanale wat geen sport uitsaai nie.

Onderhandelinge tussen die SAUK en MultiChoice, wat die eksklusiewe uitsaairegte besit, het ’n dooiepunt bereik, het albei partye bevestig.

Vuyo Mthembu, waarnemende woordvoerder van die openbare uitsaaier, het by navraag gesê die SAUK was in gesprekke met MultiChoice daaroor, maar uitsendings is kommersieel nie haalbaar nie.

“Daar sou vir die organisasie geen opbrengs op die belegging gewees het nie,” sê sy.

Die televisieregte vir die toernooi sou die SAUK $28 miljoen (meer as R411 miljoen) gekos het. Dit het produksiekoste van sowat R900 000 uitgesluit.

Joe Heshu, groephoof van korporatiewe sake van MultiChoice, het bevestig die SAUK het ’n aanbod gemaak om van die wedstryde uit te saai, maar ’n ooreenkoms is nie bereik nie.

“Die openbare uitsaaier het die aanbod onttrek en beperkings op sy begroting en probleme met skedulering as redes aangevoer.”

Madoda Mxakwe, groep- uitvoerende hoof van die SAUK, het Dinsdag aan parlementslede gesê MultiChoice se pryse was “net buitensporig”.

Hy het gesê dit is nie “finan­sieel haalbaar” vir die SAUK om ’n ooreenkoms aan te gaan om die wedstryde uit te saai nie.

Mxakwe was ’n lid van die afvaardiging van die SAUK se topbestuur en sy raad wat gister ’n voorlegging oor die uitsaaier se regrukplan aan die parlementêre portefeuljekomitee oor kommunikasie gelewer het.

Die SAUK staan tans bakhand by die tesourie vir ’n reddingsboei van R3,2 miljard.

Mxakwe is onder meer uitgevra oor waarom die WB-wedstryde nie deur die SAUK uitgesaai gaan word nie.

Die plaaslike uitsaairegte van wedstryde deur radiostasies word nie deur MultiChoice besit nie.

Daarvoor moes die SAUK met ’n derde party onderhandel. Die radio-uitsaairegte sou $60 000 (ongeveer R884 000) beloop het.

“Ongelukkig kon ’n ooreenkoms daar ook nie bereik word nie,” sê Mthembu.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het by navraag gesê hy kan nie kommentaar lewer op uitsaairegte nie en dat die saak by die SAUK en Multi­Choice berus.

Die SAUK se verlies vir die 2018-’19-boekjaar beloop reeds R483 miljoen.

Mxakwe het gesê R400 miljoen daarvan hou direk verband met die verliese wat gely is met vir die uitsaairegte vir sport.

Wat die uitsaaier aan uitsaairegte bestee en wat hy dan inkry, maak “kommersieel nie sin nie”.

Hy het gesê die SAUK het byvoorbeeld ses jaar gelede ’n kontrak onderteken om uitsaairegte vir sokker te bekom.

Dit het R280 miljoen per jaar oor vyf jaar beloop, maar die inkomste wat die SAUK toe daaruit gekry het, was minder as R40 miljoen.

Voorgestelde wetgewing is verlede jaar ter tafel gelê wat die hoeveelheid eksklusiewe inhoud wat ’n televisienetwerk mag aankoop, sal beperk.

Dit word gedoen met die hoop om MultiChoice se oënskynlike monopolie op die gebied van uitsaairegte te verbreek.

Daar is tans egter nie ’n sterk genoeg mededinger wat die peperduur regte vir sportwedstryde kan bekostig nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.