Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke nou nóg meer gevaarlik, meen Kiwi’s

Die bedreiging wat die Springbokke inhou, het toegeneem nadat Suid-Afrika se flou aanslag op die Superrugbytitel verdamp het, meen die senior sportskrywer van die gesaghebbende Nieu-Seelandse webblad Stuff.

Die Bokke het in 2018 op Loftus Versfeld naelskraap teen die All Blacks verloor. Foto: Getty Images

Duncan Johnstone skryf in ’n rubriek beserings en beperkte tyd om voor te berei is die grootste bekommernisse in ’n Wêreldbekerjaar, maar meen Rassie Erasmus, die Bok-afrigter, het ’n bonus ontvang met die Bulle en die Haaie se nederlae die afgelope naweek in die Superrugby-kwarteindronde.

“Gepraat van ’n silwerrandjie!” skryf Johnstone.

“Die Springbokke kan nou toekyk hoe sommige van hul grootste teenstanders mekaar oor die volgende paar weke opkeil in die aanloop tot hul eerste Rugbykampioenskaptoets teen die Wallabies op 21 Julie in Johannesburg, ’n naweek waar die All Blacks en Argentinië mekaar in Buenos Aires pak.

“Steve Hansen, afrigter van die All Blacks, sal al sy vingers en tone kruis met die hoop van geen ernstige beserings in die halfeindstryd tussen die Crusaders en die Hurricanes in Christchurch hierdie naweek. Die wenner van hierdie Kiwi-derby vorder na die eindstryd waar nog ’n fisieke affêre wag.

“Intussen in Suid-Afrika is Erasmus reeds in volle swang met die Springbokke, waar ’n groep van 26 spelers in Pretoria bymekaarkom om solank voor te berei vir hul eerste toets.

“Ná afloop van ’n kort ruskans sal die Bulle- en Haaie-spelers hulle by hul Bok-spanmaats aansluit om planne te beraam hoe om die All Blacks in hierdie belangrike jaar te onttroon.”

Die Bokke en die All Blacks is in dieselfde groep geloot vir die rugbyskouspel in Japan en pak mekaar in ’n watertand-openingswedstryd om die toernooi in September af te skop.

“Die Bokke vorder flink onder Erasmus en het die All Blacks in 2018 in Wellington geklop,” skryf Johnstone.

“Hulle sal enige voordeel gebruik om die All Blacks te troef en die ekstra tyd wat hulle nou geniet om voor te berei, sal baie tel vir die groter stryde wat voorlê.”

– Sportredaksie

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  All Blacks  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.