Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke pak Yanks dalk voor Leeus-toer

Die kans is goed dat die Amerikaanse Eagles die Springbokke se eerste teenstanders sal wees sedert Suid-Afrika in 2019 die Wêreldbeker-toernooi gewen het.

Gary Gold, hoofafrigter van die Amerikaanse Eagles, by die Wêreldbeker-toernooi in 2019. Foto: Getty Images

Die Bokke is veronderstel om die Britse en Ierse Leeus in Julie en Augustus in ’n toetsreeks te pak en sal vooraf in ’n opwarmingstoets of twee moet speel om weer as ’n eenheid saamgesnoer te word.

’n Woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) sê hulle het die Eagles genooi om ’n toets in die aanloop tot dié reeks te speel.

“Hulle het die uitnodiging aanvaar, maar waar en wanneer dit sal plaasvind, sal eers later bevestig kan word.”

Die Yanks het weens die Covid-19-pandemie ook nog nie weer toetsrugby gespeel sedert die Wêreldbeker (WB)-toernooi in Japan nie.

Sou die reeks teen die Leeus steeds in Suid-Afrika plaasvind, sal die VSA vir die eerste keer in die geskiedenis hier teen die Springbokke speel. Dit lyk egter al hoe meer waarskynlik dat die wêreldkampioen vanweë die pandemie na Brittanje sal moet reis vir die toetsreeks.

Hopelik kan ons mekaar help om van die roes ontslae te raak.

Gary Gold, hoofbreier van die Eagles en voormalige hulpafrigter van die Springbokke, het die beplande toets bevestig voordat hy van Kaapstad na Amerika vertrek het vir die begin van dié land se nuwe Major League-seisoen.

“Ek het die Springbokke genader en hulle is in ’n soortgelyke posisie (geen toetse ná die WB-toernooi). Hopelik kan ons mekaar help om van die roes ontslae te raak,” het Gold aan rugbypass.com gesê.

“Die plan is om daar (in Suid-Afrika) teen hulle te speel as die (Leeus-) toer in Suid-Afrika plaasvind en in die Verenigde Koninkryk indien nie. Ons gee nie werklik om waar ons teen hulle speel nie. Ek is optimisties dat die toer sal plaasvind, maar dit lyk in hierdie stadium eerder of die skaal in die Verenigde Koninkryk se guns swaai.”

USA Rugby (USAR) het in April verlede jaar aansoek gedoen om bankrot verklaar te word. USAR het toe aangevoer hy het “onoorkombare finansiële uitdagings” en Wêreldrugby het sedertdien ’n geldelike reddingsboei bewillig. Die Amerikaanse rugbybase moes ook onderneem dat die USAR sy krediteure oor die volgende vier jaar sal terugbetaal.

Dit sal Gold se span pas om die Bokke in Brittanje te pak, met verskeie Eagles soos AJ MacGinty (Sale), Will Hooley, Ruben de Haas (albei Saracens), Paul Lasike (Harlequins), Greg Peterson (Newcastle), Titi Lamositele (Montpellier), Joe Taufete’e (Lyon) en David Ainu’u (Toulouse) wat in Europa speel.

Daar was al in die verlede vier toetse tussen Suid-Afrika en die VSA, waarvan twee in WB-toernooie (2007 en 2015). Die eerste toets tussen die lande is in 1981 in Glenville in die deelstaat New York gespeel kort nadat Wynand Claassen se Bokke in Nieu-Seeland getoer het.

Meer oor:  Britse En Ierse Leeu-Toer  |  Bokke  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke  |  Vsa  |  Eagles
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.