Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie kies agterlyn met yl ervaring
Damian Willemse gaan Saterdag die eerste keer ’n toets vir die Springbokke begin. Hy is op heelagter gekies vir die toets teen Engeland op Twickenham. Hy het verlede week nog binnesenter vir die WP in die Curriebeker-eindstryd teen die Haaie gespeel. Foto: Gallo Images

Die Springbokke begin hul November-veldtog in Europa met meer as ’n handvol veranderinge aan die span wat verlede maand in die laaste minuut teen die All Blacks in Pretoria verloor het.

Met ’n derde van die span wat weens Wêreldrugby se voorskrifte nie die naweek internasionale rugby mag speel nie, moes Rassie Erasmus noodgedwonge sy span rondskommel. Damian Willemse, Sbu Nkosi en Ivan van Zyl is die veranderinge in die agterlyn, met Duane Vermeulen en Warren Whiteley wat in die agttal gekies is vir Saterdag se toets teen Engeland op Twickenham.

Vermeulen sal vir ’n eerste keer in sy loopbaan die Bokke se steelkantflank wees om vir Whiteley op agtsteman plek te maak.

Dit bring mee dat Pieter-Steph du Toit, wat nog in net twee van die tien toetse vanjaar slot gespeel het, sy vennootskap in die tweede ry met Eben Etzebeth hervat.

Die nuwe agterste driehoek, Willemse, Nkosi en Aphiwe Dyantyi – almal in hulle eerste jaar van toetsrugby – sal vir die eerste keer as ’n kombinasie op die proef gestel word.

Willemse vervang Willie le Roux in die laaste vesting en kry daarmee sy eerste beginkans, terwyl Nkosi, wat in Junie sy debuut teen Engeland gemaak het, die nuwe regtervleuel in Cheslin Kolbe se plek is.

Rassie Erasmus het ietwat verras deur Lood de Jager, wat in Mei laas ’n wedstryd gespeel het, op die Bokke se plaasvervangersbank te kies.Foto: Gallo Images

Die Bulle-skrumskakel Ivan van Zyl sal Handré Pollard se skakelmaat wees in die afwesigheid van Faf de Klerk.

Rassie Erasmus, die Bok-hoofafrigter, het ietwat verras deur die slot Lood de Jager, wat in Mei laas rugby gespeel het, as ’n tweede slot op die plaasvervangersbank te kies. Sy mede-ranker by die Bulle RG Snyman is ook op die bank.

* Die stryd op Twickenham skop Saterdag om 17:00 (SA tyd) af.

Die Springbok-span is:
 Damian Willemse, Sbu Nkosi, Jesse Kriel, Damian de Allende, Aphiwe Dyantyi, Handré Pollard, Ivan van Zyl, Warren Whiteley, Duane Vermeulen, Siya Kolisi (k), Pieter-Steph du Toit, Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Malcolm Marx, Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS: Bongi Mbonambi, Thomas du Toit, Wilco Louw, RG Snyman, Lood de Jager, Embrose Papier, Elton Jantjies, André Esterhuizen.

Meer oor:  Damian Willemse  |  Lood De Jager  |  Twickenham  |  Engeland  |  Toets  |  Rugby  |  Rose  |  Springbokke  |  Wereldrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.