Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke sal met nuwe plan kom in Wellington

Die Springbokke sal Nieu-Seeland volgende week weer in Wellington pak, maar dié keer sal hulle met “’n paar verassings” op die veld vorendag kom, sê die ster-flank Pieter-Steph du Toit.

Pieter-Steph du Toit en Ryan Crotty in verlede jaar se Wellington-toets.Foto: GETTY

Hy is die enigste speler wat in sowel gister as volgende naweek se beginspan verwag word, met die hoofdoel om hom soveel speeltyd moontlik te gee voor vanjaar se Wêreldbeker. Dié SA Rugbyspeler van die Jaar lyk egter uitgerus, fiks en reg om die wêreld se bestes te pak.

Terwyl die All Blacks duidelik wraak wil neem vir verlede jaar se nederlaag, gaan dit ’n bulstryd in Wellington wees, met die Bokke wat glo hulle kan wel die Wêreldkampioene wéér op tuisbodem wen.

“Dit gaan ’n baie interessante wedstryd wees. Ons speel weer in Wellington en ons is beslis beter voorbereid as verlede jaar. Ons het as ’n span al ’n paar weke saam gehad en ons verstaan mekaar en wat ons verantwoordelikhede in die wedstryd is. Ons is positief, en het ’n paar verassings wat op hulle wag,” het Du Toit die week gesê.

“Verlede jaar was ons fokus daarop om Nieu-Seeland in Nieu-Seeland te klop, en ons het dit gedoen. Vanjaar is ons hooffokus om die Wêreldbeker te wen. As jy enige speler vra watter wedstryd sal hy liewers verloor – volgende week s’n of die een by die Wêreldbeker, sal dit volgende week wees. Maar ons sal nooit in ’n wedstryd ingaan om dit te verloor nie. Ons weet ons moet die wedstryd wen en dit sal ons selfvertroue ’n massiewe hupstoot gee.

“Die reis gaan moeilik wees, maar ons maak nie verskonings nie. Dit is hoekom ’n paar manne vroeër oorvlieg om reg te wees. Dit gaan massief wees.”

Die reis gaan moeilik wees, maar ons maak nie verskonings nie. Dit is hoekom ’n paar manne vroeër oorvlieg om reg te wees. Dit gaan massief wees.
Pieter-Steph du Toit

Die hupstoot aan selfvertroue moet nie onderskat word nie, en Du Toit weet dit. Verlede jaar se wen het selfs Superreeks-spanne vertroue gegee en vanjaar het die Kiwi’s nie koning gekraai in elke Superrugby-wedstryd tussen die spanne nie.

“Verlede jaar het die wen gesorg vir baie selfvertroue vir ons en die Superrugby-spanne. Ons almal het baie uit daardie wen in Wellington gevat en dit in vanjaar se Superreeks ingesit. Ons sal wel met nuwe planne moet kom, maar die feit is duidelik – dit sal ongelooflik vir ons wees as ons hulle daar kan klop voordat ons in die Wêreldbeker teen hulle speel.”

Die datum van 21 September sit reeds groot in die spelers se koppe, wanneer die spanne mekaar op Yokohama in Japan in hul Wêreldbeker-openingswedstryd gaan aanpak. Maar wat ook al die uitslag volgende naweek, glo Du Toit daar sal altyd genoeg motivering vir die Yokohama-wedstryd wees.

As jy verloor, het jy iets om te bewys. Dit sal jou meer doelgerig maak, meer vasberade om te wen.
Pieter-Steph du Toit

“Dit sal beslis agter in ’n ou se kop sit. Maar daar is twee maniere om daarna te kyk – of jy wen of jy verloor. As jy wen, is dit ’n groot dosis selfvertroue wat jy kry en jy weet jy het een bo hulle. Maar as jy verloor, het jy iets om te bewys. Dit sal jou meer doelgerig maak, meer vasberade om te wen.

Du Toit sê hy sal enigiets doen om in die Wêreldbeker- span te kom, maar glo deesdae hy is eerder ’n flank as ’n slot en sien sy Bok-toekoms ook in dié posisie.

“Ek sal myself as ’n flank wil sien, maar ek dink ek het nog ’n paar dinge om in die posisie te leer. Maar soos altyd sal ek speel waar die Bokke my nodig het. As ek weer slot moet gaan speel, sal ek net daarop moet fokus. Dit sal my werk wees en ek sal alles gee totdat ek weer as flank oorweeg word.”

Rugbykampioenskap: Puntelys

Meer oor:  Wellington  |  Nieu-Seeland  |  Toets  |  Rugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.