Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke sal teen Georgië opwarm

Die Springbokke sal hul terugkeer tot internasionale rugby in Julie met twee geskiedkundige toetse teen Georgië vier.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het aangekondig dat die wêreldkampioen in die naweke van 2 en 3 Julie en 9 en 10 Julie ter voorbereiding van die toetsreeks teen die Britse en Ierse Leeus teen Georgië speel.

Jacques Nienaber se Bokke kom in Julie in twee toetse teen Georgië te staan. Foto: Gallo Images

Dit sal Georgië se eerste toetse in Suid-Afrika wees en dit sal ook die eerste keer wees dat dié rugbylande mekaar sedert 2003 se Wêreldbeker-toernooi in Australië gaan pak.

Saru sal binnekort die datums van die twee toetse finaliseer.

Rassie Erasmus, Saru se direkteur van rugby, sê die twee toetse sal vir die Springbokke goeie voorbereiding voor die reeks teen die Leeus wees.

“Niks kom by ware internasionale rugby om jou vaardighede, gereedheid en vermoëns onder druk te toets nie en ons is verheug om die geleentheid te kry voordat die reeks teen die Leeus begin.

“Jacques (Nienaber, die Springbok-afrigter) en sy afrigtingspan werk ongelooflik hard om die span so goed moontlik voor te berei en ná die lang en onvoorsiene onderbreking weens die Covid-19-pandemie is hierdie toetse teen Georgië broodnodig,” sê Erasmus.

Nienaber is aan die begin van verlede jaar as Erasmus se opvolger aangewys, maar die Bokke het weens dié wêreldwye krisis nie ’n enkele toets in 2020 gespeel nie.

“Die bevestiging van die toetse teen Georgië en verlede week se aankondiging van die Leeus se toergroep sorg vir groot opgewondenheid en ons kan nou ons voorbereiding vir toetsrugby versnel,” sê Nienaber.

Georgië het die laaste paar jaar met sy kragtige en fisieke voorspelers sterk in wêreldrugby op die voorgrond getree.

Lasja Choertsidze, Georgië se vise-president: hoë prestasie en ontwikkeling, sê die geskiedkundige eerste besoek aan Suid-Afrika het ’n werklikheid geword danksy die vriendskap en samewerking wat daar tussen die twee rugbylande is.

“Dit is vir ons ’n groot eer om teen hulle te speel. Ons het nog net een keer, in ons eerste Wêreldbeker-toernooi, teen hulle gespeel.

“Dit is lank gelede en hulle is nou die wêreldkampioen, en ons het sedertdien ook baie ontwikkel.”

Die Springbokke, onder aanvoering van John Smit, het Georgië in Sydney in die Wêreldbeker-toernooi (in 2003) met 46-19 geklop.

• Wêreldrugby het intussen gesê produktiewe gesprekke word tans gevoer met alle rolspelers om ná afloop van 2023 se Wêreldbeker-toernooi ’n enkele internasionale toetskalender in werking te stel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.