Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke se aanslag op WB lyk belowend

Die Springbokke se Wêreldbeker-opmars kon kwalik beter verloop het. Dit was Saterdagaand die sentiment in die Bok-kamp nadat ’n naasbeste span Argentinië, wat self verswak was, met 24-18 in Pretoria verslaan het.

Die vaskopstut Vincent Koch was Saterdag op Loftus Versfeld een van die min Springbokke wat nou ’n beter kans het om die Wêreldbeker-groep te haal. Foto: Gallo Images

Die Bokke, die voorste rugbyspan suid van die ewenaar ná die Rugbykampioenskap, is sover onoorwonne die seisoen.

Afgesien van ’n gelykop-uitslag teen die All Blacks in Nieu-Seeland, het Suid-Afrika voorverlede week ’n kragvertoning in Salta teen die Argentyne gelewer.

Voeg daarby die diepte in die groep, spelers wat met selfvertroue speel en uitgerus is, min beserings, en Suid-Afrika se aanslag op die Webb Ellis-beker lyk belowend. Rassie Erasmus, die hoofafrigter, het egter Saterdagaand erken die span wat hy gekies het vir die Loftus-toets teen die Poemas was ’n waagstuk. 

“Ons het 18 spelers laat rus as jy in ag neem dat Herschel Jantjies nie kon speel nie. 

“Ek weet mense hou nie daarvan dat daar proefnemings met Springbokspanne gemaak word nie en ek besef as ons verloor het, sou ek teleurgesteld gewees het en julle ouens (die media) sou my gelooi het.

“Dit is ’n kans wat ons gevat het en ek is bly dat ons kon wen. Dit was waardevol, want ons kry goeie diepte en daar is kwaai mededinging in die groep.

”Die Springbokke het laas in 2007 met soveel momentum, selfvertroue en spelers wat uitstekend op peil is ’n WB-toernooi aangedurf.

Is ’n derde Wêreldbeker-toernooi hom beskore? Frans Steyn Saterdag op Loftus. Foto: Gallo Images

Die Bulle en die Haaie het daardie jaar in die Superrugby-eindstryd gespeel en daar was ’n groot kern van spelers soos Percy Montgomery, Bryan Habana, Butch James, Fourie du Preez, Juan Smith en Victor Matfield wat by die WB-toernooi in Frankryk die beste rugby van hul loopbane gespeel het.

Hoewel Erasmus nog vrae het oor spelers in sekere posisies in sy groep vir die Wêreldbeker, het hy Saterdagaand gesê hy het klaar besluit oor sy skrumskakels en hakers.

Faf de Klerk, Cobus Reinach en Herschel Jantjies sal almal saamgaan Japan toe, terwyl Malcolm Marx, Bongi Mbonambi en Schalk Brits die hakers in die groep sal wees.

Op slot is die name van Eben Etzebeth, Franco Mostert, RG Snyman en Lood de Jager reeds neergepen.

Die vaskopstut Vincent Koch is ná Saterdag se sterk vertoning in die binnebaan om saam met Steven Kitshoff, Frans Malherbe, Tendai Mtawarira en Trevor Nyakane op die vliegtuig te klim.

Met Warren Whiteley uit die wedloop, behoort Kwagga Smith en Francois Louw saam met Siya Kolisi, Duane Vermeulen en Pieter-Steph du Toit die losvoorspelers te wees. 

* Die Bokke het ná hul oorwinning weer teruggeskuif na die vierde plek op die wêreldranglys. Engeland was in die vierde plek, maar omdat hulle Saterdag teen die nuwe nr. 1, Wallis, verloor het, sak hulle nou terug na die vyfde posisie. 

Meer oor:  Argentinië  |  Bokke  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Poemas  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.