Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Fout met Bokke se ‘biologiese wekkers’?

Prof. Derick Coetzee, ’n voormalige kondisioneringshoof van die Springbokke, sou nooit toelaat dat groot spelers of spelers met laerugprobleme in ekonomiese klas vlieg nie.

Derick Coetzee (regs), ’n voormalige kondisioneringshoof van die Springbokke, in 2007 saam met die huidige Bok-breier, Allister Coetzee, wat toe die Bokke se hulpafrigter was. Foto: Gallo Images

Die Bokke moes weens die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se geldknyp hul gebruiklike besigheidsklas-vliegtuigkaartjies vir ekonomiese klas inboet toe hulle vir hul jaareindtoer van vier toetse na Europa gereis het.

Die Bokke het Saterdag hul eerste toets teen Ierland in Dublin met ’n rekordtelling van 38-3 verloor.

“Dit is belangrik dat spelers se biologiese wekkers reg ingestel is op toer. Die feit dat die Bokke in ekonomiese klas gevlieg het en nie besigheidsklas nie, kan veroorsaak dat hul slaapritme versteur word, al is die tydverskil in Europa klein,” sê Coetzee.

“Ek sou nooit dat groot spelers of ouens met laerugprobleme in ekonomiese klas vlieg nie,” sê hy.

Coetzee was die hoof van kondisionering toe Jake White die Bokke van 2004 tot 2007 gebrei het. Die Bokke het die Wêreldbeker-toernooi in 2007 in Frankryk gewen, so Coetzee het goeie kennis van die speeltoestande daar.

Die Bokke speel Saterdag teen Frankryk in Parys.

“Die Europese velde stel uiteraard unieke eise aan spelers se spiere en uithouvermoë. Die nat velde plaas stremming op die kuit- en dyspiere. Veral Suid-Afrikaanse spelers uit die binneland kan hiermee sukkel, want hulle is gewoond aan harde velde. Dit is dus belangrik om op nat velde voor te berei,” sê Coetzee.

Die Europese velde stel unieke eise aan spelers. Die nat velde plaas stremming op die kuit- en dyspiere. Veral spelers uit die binneland kan sukkel,
Prof. Derick Coetzee

Die toets in Parys begin boonop om 20:45 Franse tyd. Dit is later as waaraan Suid-Afrikaanse spelers gewoond is om te speel, maar volgens Coetzee behoort dit nie ’n impak op beroepspelers te hê nie.

“Dit is belangrik om jou kapteinsoefening op dieselfde tyd te hou as wat die wedstryd gaan wees. Almal is beroepsportmanne, so hulle sal die aanpassing moet maak.

“Die spelers se eetprogramme sal aangepas moet word, maar dit stel nie buitengewone eise aan die spelers nie. Hulle is ook gewoond daaraan om in wedstryde te speel wat 19:00 begin, so die uur of twee later behoort geen probleem te wees nie.”

Coetzee sê ook die Bokke se kondisionering lyk op die oog af beter as wat die geval verlede jaar was.

“Die toets teen Nieu-Seeland op Nuweland was baie verblydend. Die Bokke was vyf minute voor die einde steeds in die wedstryd en het selfs ’n kans gehad om te wen. Dit het my baie moed gegee wat hul kondisionering en ywer betref,” sê hy.

Die All Blacks bestee tot ’n uur en ’n half aan hul spelvaardighede op die veld. Dit is iets wat in Suid-Afrika agterweë gelaat word.
Prof. Derick Coetzee

Moderne rugbyspelers bestee baie tyd in die gimnasium, maar die belangrikste element van voorbereiding is steeds om genoeg tyd op die oefenveld deur te bring.

“Die regte balans tussen gimnasiumwerk en veldsessies moet gevind word. Dit is iets wat die Nieu-Seelanders baie goed regkry. Die All Balcks bestee tot ’n uur en ’n half aan hul spelvaardighede op die veld. Dit is iets wat in Suid-Afrika agterweë gelaat word.”

Meer oor:  Allister Coetzee  |  Parys  |  Frankryk  |  Bokke  |  Jaareindtoer  |  Springbokke  |  Hane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.