Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke se ‘Monster’ verloor stryd
Corra Dirksen op die aanval vir die Springbokke. Foto: Springbok-sage

Die oud-Springbokvleuel dr. Corra Dirksen het op die rugbyveld talle groot seges behaal, maar het Vrydagoggend in Krugersdorp sy stryd teen Covid-19 verloor en sy laaste asem in die ouderdom van 82 uitgeblaas.

Dirksen het steeds voltyds as ’n dokter gewerk, voordat hy glo ongeveer twee weke gelede die virussiekte opgedoen het.

Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie, het Vrydag sy hartseer oor Dirksen se afsterwe uitgespreek.

“Ek het vanoggend daarvan gehoor. Dit is ’n groot jammerte,” het Strauss by navraag gesê.

“Hy was uiteraard een van ons mees gevierde oud-Blou Bulle en kom uit ’n bekende familie, met sy broer, Hansie, wat ook provinsiale rugby gespeel het.

“Dit is altyd hartseer om afskeid te neem van ’n voormalige held van Loftus Versfeld en ons medelye en harte is by sy vriende en familie,” sê Strauss.

In 1963 het Dirksen die 27ste speler van die Ligbloues geword om sy buiging vir die Springbokke te maak toe hy op 7 September in Port Elizabeth as linkervleuel teen Australië opgedraf het.

Suid-Afrika was toe met 22-6 baas.

Corra Dirksen op pad doellyn toe in ’n wedstryd vir Noord-Transvaal. Foto: Gallo Images | Wessel Oosthuizen

Dirksen het in 35 wedstryde die Ligbloues verteenwoordig.

Hy is nie net in plaaslike kringe geag as ’n speler waarvoor daar lig geloop moet word nie, maar veral die Fransmanne kon nie die heuningkwas genoeg uithaal vir hom nie.

Walter Spanghero, een van Frankryk se legendariese spelers, is in die vroeë 1980’s deur Norman Giller, die samesteller van The Book of Rugby Lists, gevra om ’n span te kies wat hy die graagste in aksie sou wou sien.

Hy het eindelik drie Suid-Afrikaners in dié groep gekies. Hulle was die slot Frik du Preez, senter John Gainsford en Dirksen.

Hy sou eindelik die Groen-en-goud in tien toetse tussen 1963 en 1968 dra en het drie keer in sy Springbok-loopbaan agter die doellyn gaan draai.

Al drie dié drieë is immers teen Frankryk in 1967 gedruk, met die Hane wat hom gevolglik as Le Monster (Die Monster) gedoop het.

Die drieë is behaal tydens ’n tuisreeks van vier wedstryde, wat Suid-Afrika eindelik met 2-1 beklink het, nadat een kragmeting gelykop geëindig het.

Dirksen het twee keer in die eerste toets in Durban gedruk, met die Springbokke wat met 26-3 die pyp gerook het.

Dirksen het twee keer in die eerste toets in Durban gedruk, met die Springbokke wat met 26-3 die pyp gerook het.

In die tweede toets in Bloemfontein het hy wéér agter die doellyn gaan kuier toe Suid-Afrika met 16-3 baas was.

Frankryk sou eindelik die derde toets in Johannesburg met 19-14 wen, terwyl die laaste wedstryd in dié reeks in Kaapstad met 6-6 gelykop geëindig het. Dirksen was in al vier hierdie wedstryde in die beginspan.

Sy laaste toets was teen die Britse en Ierse Leeus in 1968, weer in die Baai, toe die twee spanne met 6-6 gelykop gespeel het.

Benewens sy senior loopbaan het hy as skoolseun al beïndruk vir Hoërskool Vereeniging. Dié span, met Dirksen op vleuel, het in 1956 glorie in die destydse Administrateursbeker (nou Virsekerbeker) geproe.

Dirksen se toetsdrieë teen Frankryk in 1967:

Meer oor:  Corra Dirksen  |  Frankryk  |  Suid-Afrika  |  Blou Bulle  |  Sterf  |  Vleuel  |  Springbok  |  Covid-19  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.