Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke dryf Vunipola tot selfondersoek

Die stut Billy Vunipola glo hy het sy land in die steek gelaat tydens verlede jaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi en ook sy broer, Maku, nie genoeg bygestaan nie.

Billy Vunipola word vasgevat in die Wêreldbeker-rugbytoernooi se eindstryd verlede jaar in Tokio. Foto: Getty Images

In ’n onderhoud met RugbyPass sê die agtsteman van Saracens hy het die tyd van inperking gebruik vir “selfondersoek” en wil nou opmaak vir verlore tyd saam met spanmaats en familie.

Hy sê dat hy sedert die toernooi met verskeie lede van die Wêreldbekerspan gepraat het oor “persoonlike” kwessies en erken dat sy “kop hoog in die wolke was” tydens die toernooi in 2019 in Tokio.

Engeland het die verdedigende kampioen, Nieu-Seeland, met 19-7 oorrompel in die halfeindstryd, net om volkome te steier voor die laaste hekkie in die vorm van die Springbokke. Hulle het met 32-12 verloor.

Vunipola erken sy gedrag was nie na wense nie en dat hy sedertdien daarna streef om sy verhouding met sy broer en Saracens-spanmaat te red.

“Ek het nog altyd iemand anders die skuld probeer gee. Nadat ek met my ouers gesels het, het ek uiteindelik besef

ek moet pa staan,” het Vunipola in die video-onderhoud gesê.

“Daardie mense lieg nooit vir my nie. Dit was moeilik om na myself te kyk en ek het baie gedink. Dit het ’n ruk geneem om te besef my ouers is reg, basies 100% van die tyd. ”

“My kop was in die wolke en ek wou nie verantwoordelikheid aanvaar vir die dinge wat ek gedoen het nie.”

Hy sê dat hy nie dit altyd maklik vind om te erken wanneer hy verkeerd is nie.

“Daar het dinge gebeur toe ons weg was (in Japan) en ek het gepraat met die mense wat ek dink geaffekteer is. Dit was persoonlik tussen my en hulle en hulle en my.”

My kop was in die wolke en ek wou nie verantwoordelikheid aanvaar vir die dinge wat ek gedoen het nie.

Ofskoon hy nie wou uitbrei oor wat dié kwessies is waaroor hy met sy spanmaats gesels het nie, sê hy hy voel ’n mate van verligting noudat hy wel met hulle kontak gemaak het.

“Ek het baie selfondersoek gedoen ná die Wêreldbeker en tydens die Covid-19-tydperk. Daar is dinge wat ek beter kon doen en die gemoedstoestand in die span geraak het.”

Hy sê hy het na sy broer uitgereik en om verskoning gevra dat hy hom nie in die verlede meer ondersteun het nie.

“Ek hoop beslis dat ons verhouding nou sal verbeter. Daar was voorheen baie negatiwiteit en ons was uiters kompeterend.”

“Ek het hom nie ondersteun toe hy met ’n rits beserings gesukkel het nie. Die gesprek met hom het die verhouding ietwat verbeter en hopelik kan dit nóg verder in daardie rigting gaan.”

Hy sê verder hy hoop Maku kan sien dat hy as mens meer volwassenheid toon.

“Ek dink hy kan sien daar is verandering in my as mens. Ons praat baie meer. Dat ons voorheen nie oor die weg gekom nie, is grootliks my skuld, want ek het nooit die moeite gedoen nie.

“Ek wou nooit na hom luister nie, want ek het gedink ek weet wat aangaan,” het hy bygevoeg. – RugbyPass, Sportredaksie

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.