Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke se Skotse toetse straks net uitgestel

Die Springbokke se tuistoetse teen Skotland in Julie sal waarskynlik uitgestel en nie afgestel word nie.

Die TV-geld wat uit dié toetse verdien sal word, is te noodsaaklik om dit net te laat vaar, het Rapport betroubaar verneem. SA Rugby sal ook alles in sy vermoë doen om te verseker dat Nuweland tog vanjaar ’n afskeidstoets kry.

Die Bokke moet op 4 Julie op Nuweland teen Skotland speel, wat veronderstel is om die laaste toets in die geskiedkundige stadion te wees.

CAPE TOWN, SOUTH AFRICA - JUNE 23: General view of
Gaan die Bokke kans kry om Nuweland met 'n toets te groet? Foto: Gallo Images

Weens die negatiewe impak van die koronavirus is daar ’n kleiner as 10%-kans dat die toets in Julie sal plaasvind.

Die tweede toets teen Skotland is vir 11 Julie in Durban beplan, maar ook dít sal later plaasvind.

Wêreldrugby sal aan die einde van April verskillende datums vir die reël van dié en ander Julie-toetse elders voorlê in ’n poging om iets te red uit die wrak wat deur die Covid-19-pandemie veroorsaak is – as dit enigsins moontlik is.

Vanjaar se Sesnasiesreeks met vier uitgestelde wedstryde, en die Rugbykampioenskap met 12 ongespeelde wedstryde, is geskeduleer om in Augustus en September oor ’n tydperk van agt weke plaas te vind.

Die voltooiing van die kompetisies is weens finansiële oorwegings uiters belangrik vir Wêreldrugby, wat die afgelope tyd verskeie konferensieoproepe met sy aandeelhouers gehad het.

Volgende op die lys van prioriteite vir Wêreldrugby is Julie en November se toetse.

Die nuwe datums vir Julie se toetse sal nie met die van die Rugbykampioenskap oorvleuel nie.

As die Julie-toetse weens die impak van die koronavirus in die slag bly, is ’n ander moontlikheid dat die inkomste wat deur die November-toetse gegenereer word, herverdeel sal word om te vergoed vir die verbeurde inkomste weens toetse wat in die slag gebly het.

Die Bokke speel op 7 November teen Italië, 14 November teen Ierland, 21 November is Frankryk hul teenstander en op 28 November kom hulle buite die vensterperiode teen Wallis te staan.

Dis nog onseker wat SA Rugby met die toets teen Georgië beplan, wat veronderstel is om op 18 Julie in Port Elizabeth plaas te vind.

Dié toets se inkomste sal kleiner wees as dié teen Skotland, maar dit kan ’n invloed op die Bokke se beplanning hê.

Meer oor:  Koronavirus  |  Skotland  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Wêreldrugby  |  Covid-19  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.