Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) sal nie in Pieter de Villiers se pad staan om hom by Heyneke Meyer se Franse klubspan Stade Français aan te sluit nie.
Meyer het planne om De Villiers as ’n hulpafrigter te betrek, alhoewel geen ooreenkoms nog bereik is nie. Nogtans het die Franse media die afgelope week meer as net geskimp dat De Villiers op pad is na Stade Français.

Pieter de Villiers tydens ’n Springbok-skrumoefening by die Wêrelbeker-toernooi in 2015.Foto: gallo images
Boonop word daar hard gefluister dat Victor Matfield, die voormalige Springbok-slot van die Bulle, hom as ’n konsultant by Meyer kan aansluit. Meyer en Matfield loop ’n lang pad saam. Meyer het Matfield destyds by Griekwas as speler gaan haal. Die voormalige Bok-breier het Matfield ook destyds omgepraat om weer te begin speel nadat hy uitgetree het.
De Villiers, wat sakebelange in Suid-Afrika het en in diens van Saru is, benodig onder meer nog Saru se vrystelling voordat hy na sy voormalige klubspan kan terugkeer.
Rapport verneem Saru sal om menslike redes De Villiers van sy verpligtinge vrystel as hy wel so ’n versoek van hom ontvang.
De Villiers is met ’n Franse burger, Helene, getroud. Haar tuisstad en die hoofkwartier van Stade Français, Parys, het daarom ’n groot aantrekkingskrag vir die De Villiers-egpaar.
De Villiers is tans met sabbatsverlof, nadat hy vroeër besluit het om hom weens persoonlike redes as Springbok-hulpafrigter te onttrek. Hy en Saru het ’n gesamentlike besluit geneem dat hy weens persoonlike faktore nie al sy aandag aan die Bokke sal kan gee nie.

Heyneke Meyer
Die 45-jarige De Villiers het voorheen self vir die tradisieryke klubspan gespeel – van 1994 tot 2008.
Hy en Meyer, Stade Français se nuutaangestelde direkteur van rugby, het boonop ’n goeie verhouding. De Villiers was onder meer tydens 2015 se Wêreldbekertoernooi die Bokke se skrumafrigter onder Meyer.
Hy was ook Meyer se “toergids” deur Parys se strate toe die gewese Bok-hoofafrigter ’n vorige keer deur Stade Français genader is, maar hy toe besluit het om eerder ’n kontrak met die Engelse klubspan Leicester Tigers te sluit.
De Villiers se koms kan Meyer se aanpassing vergemaklik aangesien hy vertroud is met die Franse leefstyl en kultuur. De Villiers kan ook vlot Frans praat.
Matt Proudfoot het De Villiers reeds in die Bok-afrigtingspan vervang. Proudfoot sal as een van die hulpafrigters vir die Bokke se lynstaanspel en skrumwerk verantwoordelik wees. Hy was reeds by die onlangse nasionale oefenkampe in Vanderbijlpark betrokke. Proudfoot was in 2016 en verlede jaar een van Allister Coetzee se Bok-hulpafrigters.

Victor MatfieldFoto: GALLO
Meyer het die afgelope tyd verskeie Suid-Afrikaners gekontrakteer, waaronder André Volsteedt, fiksheidsghoeroe van Orlando Pirates.
Volsteedt was die afgelope sowat twee jaar by ’n sokkerspan betrokke, maar dié voormalige Vrystaatse krieketspeler was voorheen by die kondisionering van rugbyspanne van Grey-kollege (2000 tot 2006), die Vrystaatse Cravenweekspan (2002 tot 2004), Blitsbokke (2004 en 2005), Haai-akademie (2007 tot 2011) en Blou Bulle (2011 tot 2015) betrokke.
Matfield het nog verpligtinge as een van SuperSport se kenners op rugbyprogramme, wat onderhandelinge met hom kan beïnvloed.
Die Bok-skrumskakel Piet van Zyl het reeds ’n jaarkontrak met Stade Français gesluit nadat sy voormalige klubspan, London Irish, uit die Engelse Premierliga gerelegeer is.