Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke se WB-prentjie word al duideliker
Suid-Afrika begin die verdediging van die Webb Ellis-trofee in 2023 se Wêreldbeker-toernooi teen Skotland in Marseille. Foto: Getty Images

Die Springbok-rugbyspan skop sy veldtog in 2023 se Wêreldbeker-toernooi af in ’n stadion waar hy in 2007 amper ’n skok-nederlaag in die kwarteindronde gely het.

Was dit nie vir JP Pietersen se desperate duikslag op die Fidjiaanse blits Ifireimi Rawaqa in die tweede helfte van dié kragmeting nie, kon die gety in Marseille se Stade Velodrome teen die Bokke gedraai het.

Suid-Afrika het uiteindelik met 37-20 gewen nadat Fidji vroeër ’n agterstand van 6-20 in ’n oogwink uitgewis het om met 20-elk gelykop te trek.

Die Bokke keer sowat 16 jaar later terug om die verdediging van hul wêreldkroon op 10 September 2023 teen Skotland daar af te skop.

Hul ander groot groepwedstryd, teen Ierland, word op 23 September in die Stade de France in Parys gespeel.

Twee van die Bokke se teenstanders moet nog bepaal word, maar die datums is – volgens die skedule wat Vrydag bekend gemaak is – 17 September (teen ’n kwalifiseerder uit Europa) en 1 Oktober (teen ’n kwalifiseerder uit die Suidsee-streek). Daardie wedstryde sal onderskeidelik in Bordeaux en Marseille gespeel word.

Jacques Nienaber, wat by Rassie Erasmus as hoofafrigter van die Springbokke oorgeneem het. Foto: Getty Images

Die Stade de France hou baie goeie herinneringe vir Suid-Afrika in. Dis dáár waar Suid-Afrika die Wêreldbeker in 2007 verower het, Engeland vroeër in daardie toernooi met 36-0 geklop en Jannie du Beer ook sy vyf skepdoele teen die Rose aangeteken het in 1999 se kwarteindstryd.

Jacques Nienaber, Springbok-afrigter, het Vrydag se aankondiging verwelkom.

“Die aankondiging is ’n belangrike mylpaal in ons beplanningsfase vir 2023 se Wêreldbeker-toernooi,” het Nienaber in ’n nuusverklaring gesê.

“Noudat dit bekend is waar die wedstryde gespeel gaan word, het die afrigting- en bestuurspan ’n duidelike idee oor die algehele voorbereiding en logistieke maatreëls. Die skedule gee duidelikheid oor hoeveel dae daar tussen wedstryde is, wat ’n invloed op ons strategie ten opsigte van spelerwelsyn sal hê.

“Ons kan nou intensief met ons logistieke planne begin vir dinge soos basiskampe.”

Met Skotland en Ierland in sy groep, lê Suid-Afrika se pad kwarteindronde toe met duwweltjies bestrooi. Tans lê Ierland sesde op Wêreldrugby se ranglys en Skotland agtste.

Om in dieselfde groep as Ierland en Skotland te wees, is ’n massiewe uitdaging, maar om die toernooi te kan wen, moet jy al die spanne kan klop.
Jacques Nienaber

“Om in dieselfde groep as Ierland en Skotland te wees, is ’n massiewe uitdaging, maar om die toernooi te kan wen, moet jy al die spanne kan klop,” sê Nienaber.

“Ons sal vir elke scenario beplan, insluitend ’n baie taai laaste groepwedstryd wat moontlik teen Samoa of Tonga kan wees.”

Indien die Bokke vorder tot in die uitklopfase, wag ’n groter uitdaging in die kwarteindronde, met die All Blacks, of die gasheerland, Frankryk, waarskynlik as moontlike teenstanders. Suid-Afrika is in Groep B, waarvan die wenner teen Groep A se naaswenner, en die naaswenner teen Groep A se wenner speel. Daardie kwarteindstryde sal in die Stade de France gespeel word.

Springbokke se WB-program:

10 September: SA t. Skotland (Stade Velodrome, Marseille)

17 September: SA t. Europa 2 (Stade de Bordeaux, Bordeaux)

23 September: SA t. Ierland (Stade de France, Parys)

1 Oktober: SA t. Asië/Suidsee-eilande (Stade Velodrome, Marseille)

 
Meer oor:  Jacques Nienaber  |  Skotland  |  Frankryk  |  Ierland  |  Afrigter  |  Rugby  |  Kampioen  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.