Suid-Afrika en Skotland is bestem om op Murrayfield swaarde te kruis wanneer die Springbokke in 2021 vir die eerste keer in drie seisoene op ’n jaareindtoer sal gaan.

Die Springbok-slot RG Snyman in aksie vir die Springbokke in hul laaste toets teen Skotland op Murrayfield. Die Bokke het toe met 26-20 gewen. Foto: Getty Images
In ’n nuusverklaring Dinsdag het die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) aangekondig dat die Springbokke op 13 November in Edinburg sal speel. Die teenstanders vir die ander toetse op 6 en 20 November is nog onbekend.
Die Skotse Rugbyunie het reeds kaartjies begin verkoop.
Rassie Erasmus, Saru se direkteur van rugby, sê in ’n verklaring dat Skotland hom gevestig het as ’n “baie taai” en “moeilike span om te klop”.
“Ons laaste ontmoeting twee jaar gelede was ’n baie naby stryd,” sê hy.
“Volgende jaar se toetse sal die eerste keer in drie jaar wees wat die Springbokke in Europa toer, waar die intense wedywering teen taai teenstanders in onbekende weerstoestande vir interessante toetse sorg.”
Suid-Afrika het laas in 2018 in Europa getoer. Die tradisionele jaareindtoer vind nie in Wêreldbeker-jare plaas nie en vanjaar s’n het weens die Covid-19-pandemie nie gebeur nie.
Die Bokke se laaste kragmeting met die Skotte op Murrayfield was in 2018 en die besoekers het met 26-20 gewen.
Skotland se laaste oorwinning oor die Bokke was in 2010, toe ses strafdoele en ’n skepdoel deur Dan Parks aan hulle ’n sege met 21-17 besorg het. – Stephen Nell