Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Springbokke is (weer) wêreld se beste
BERLIN, GERMANY - FEBRUARY 17: Captain of the Sout
Siya Kolisi neem die gesogte Laureus-prys vir span van die jaar Maandagaand in Berlyn, Duitsland, in ontvangs. Foto: Gallo Images

Die Springbokke is wêreldsport se Span van die Jaar.

Die Suid-Afrikaanse rugbyspan het Maandagaand ’n gesogte Laureus-sporttrofee by hul Wêreldbeker gevoeg, omdat hulle met hul prestasie in Tokio, Japan, daarin geslaag het om ’n land te verenig.

Dit in kort is die “opdrag” van die Laureus-sportbeweging en dit is waarom hulle in Berlyn, Duitsland, as die Span van die Jaar aangewys is.

Siya Kolisi, die Bok-kaptein, het die prys namens sy span van Edwin Moses ontvang. Aan sy sy was Jacques Nienaber, die aangewese Bok-afrigter, en die Suid-Afrikaanse sakemagnaat Johann Rupert.

Rupert het pres. Nelson Mandela by Laureus betrek. Mandela het in 2000 by die eerste toekenningsaand gesê sport het die mag om die wêreld te verander en om mense te verenig. Die woorde het gelei tot die totstandkoming van die beweging Sport for Good en is steeds vandag die slagspreuk van Laureus.

BERLIN, GERMANY - FEBRUARY 17: Laureus Executive C
Siya Kolisi deel die oomblik met Johann Rupert. Foto: Gallo Images

Kolisi het die Laureus-akademie bedank, asook vir Rupert.

“Dankie dat jy ons deur die Wêreldbekertoernooi ondersteun het,” het hy van Rupert gesê.

“Dankie vir al die wenners wat ons op ons reis geïnspireer het.

“In’n tyd van xenofobie en geslagsgeweld het ons dit nodig gehad – om bymekaar te kom.

“Ons het kinders geïnspireer, wat in ’n township na die skool stap – dat hulle ook ’n WB-kaptein kan wees.

“So ook iemand soos Francois Louw, wat ’n meer bevoorregte begin tot die lewe gehad het.

“Ons was Engelse, Afrikaners en Xhosas,” het Kolisi gesê.

BERLIN, GERMANY - FEBRUARY 17: Laureus Academy mem
Siya Kolisi ontvang die trofee van Edwin Moses. Foto: Gallo Images

Louw, Cheslin Kolbe en Faf de Klerk was van die Bokke wat hul spanmaats verteenwoordig het.

Sachin Tendulkar en die Indiese krieketspan het die prys ontvang vir die Sportoomblik van die Jaar van die laaste 20 jaar. Hulle is bekroon dat hulle Indië verenig het met die verowering van die Wêreldbeker in 2011. Die prys is bepaal deur openbare stemming.

Tendulkar het gesê hy het Mandela as ’n 19-jarige ontmoet.

“Sy swaarkry het nie sy leierskap beïnvloed nie. Hy het gesê sport kan mense verenig en dit is vandag steeds waar.”

Dit was moeilik om die wêreld se beste sportman aan te wys. Vir die eerste keer in 20 jaar het twee benoemdes dieselfde aantal stemme vir ontvang. Die Britse renjaer Lewis Hamilton, wat in 2019 sy sesde Formule Een-wêreldtitel gewen het, en die Argentynse sokkerspeler Lionel Messi, is albei as Sportman van die Jaar aangewys.

Messi, wat sy klubsokker vir die Spaanse klub Barcelona speel, is verlede jaar as wêreldsokker se beste speler aangewys en het ook die gesogte Ballon d’Or vir ’n sesde keer ontvang. Hy het verlede jaar sy 600ste doel in sy La Liga-loopbaan aangeteken.

Die Keniaanse langasem Eliud Kipchoge sal wonder wat hy verkeerd gedoen het. Al is dit nie as ’n amptelike wêreldrekord erken nie, het hy in Oktober 2019 vir die eerste keer ooit die marathon in minder as twee uur afgelê.

Michael Johnson en Nadia Comaneci het die Amerikaanse gimnas Simone Biles as die Sportvrou van die Jaar aangewys. Sy het op net 22-jarige ouderdom vyf goue medaljes in die Wêreldkampioenskappe gewen. Dit is haar derde Laureus-trofee.

Biles was nie teenwoordig nie, maar in Houston, Texas, waar sy ’n oefenkamp bywoon.

Die akademie het sy spesiale prys vir buitengewone prestasie toegeken aan die Spaanse basketbalfederasie, wie se mans- en vrouespanne verlede jaar onderskeidelik die wêreld- en Europese kampioene was.

Dirk Nowotzki, Duitse basketbalspeler, het die prys vir lewenslangse prestasie ontvang.

Hugh Grant, die aanbieder, het die gehoor gevra om applous te gee vir Kobe Bryant, en nié ’n oomblik van stilte nie. Die 41-jarige Amerikaanse basketbalspeler het verlede maand in ‘n helikopterongeluk in Kalifornië gesterf.

Die voormalige Springbok-vleuel Bryan Habana is as die 69ste Akademielid ingelyf.

South Bronx United, ’n program wat deur sokker probeer om die lewe van minderbevoorregte gemeenskappe in New York te verander, het die Sport for Good-prys ontvang.

Ander wenners:

Deurbraak van die Jaar: Egan Bernal (Col, fietsry).
Terugkeer van die Jaar: Sophia Florsch (Duits, motorwedrenne).
Gestremde sportpersoon: Oksana Masters (VSA, Nordiese ski en padfietsry).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.