Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke val vas teen Wallabies in Brisbane

Die Springbokke se nagmerrie duur voort in Australië.

Kurtley Beale, losskakel van die Wallabies, probeer verby Jesse Kriel, senter van die Bokke, kom. Foto: Getty Images

Die Bokke het Saterdag in Brisbane waarskynlik Michael Cheika se loopbaan as afrigter van die Wallabies met hul ongeduld op die aanval, hope foute en swak besluitneming gered.

’n Uitgedunde Wallaby-span sonder sterre soos David Pocock (nekbesering), Israel Folau (enkelbesering) en Adam Coleman (familieredes) het die Bokke met 23-18 in nat toestande in die Suncorp-stadion geklop.

’n Mens kan nie net vinger wys na die ses proefnemings wat Rassie Erasmus aan sy beginspan ná die nederlaag teen Argentinië gemaak het nie. Dít het wel ’n rol in die Bokke se sukkelvertoning gespeel, maar ’n proefneming soos Steven Kitshoff in die beginspan het byvoorbeeld geslaag.

Die senterkombinasie van Damian de Allende en Jesse Kriel het wel nie vuurwerk gelewer nie, maar hulle was nie die rede vir die nederlaag nie. Die Bokke het genoeg kanse gehad om te wen, maar swak hantering, oorgretigheid en vrot besluitneming het die Suid-Afrikaners geplettervat.

Die Wallabies verdien ook krediet. Hulle was meer kreatief op die aanval, terwyl Will Genia en Kurtley Beale sake beter as skakelpaar beheer het. Matt Toomua, wat as die Speler van die Wedstryd aangewys is, was self kookwater.

Die groot verskil in die kragmeting was dié drietal se spel vergeleke met die Bokke se drie belangrikste besluitnemers agterlangs s’n. Faf de Klerk, Elton Jantjies en Willie le Roux was nie in die nat toestande op hul gemak nie. Glad nie.

De Klerk het ’n aantal blapse agter die losgemale gemaak en sy besluitneming was nie altyd goed nie. Dit sê baie dat die Springbok-afrigter Rassie Erasmus hom steeds 80 minute lank op die veld gehou het. ’n Mens kan dit dalk as ’n teken sien dat Erasmus nog nie tevrede met sy diepte op skrumskakel is nie. Maar dit was Saterdag ’n gulde geleentheid om iemand soos Embrose Papier ’n kans te gee met die oog op die Wêreldbeker-toernooi in Japan.

Jantjies het die wedstryd goed begin, maar een of twee duikslae verbrou en ook twee swak skoppe gegee. Sy voetaangee na Aphiwe Dyantyi in die eerste helfte was swak. Hy moes ook nooit in die tweede helfte ’n grondskop deurgestuur het wat uitgerol het toe die Bokke ongeveer vyf meter van die Wallabies se doellyn was nie.

Le Roux het met tye onseker gelyk. Hy het nie beheer gevat nie. Sy hantering het hom ook ’n slag of twee in die steek gelaat op die nat speeloppervlak. Dit verbaas dat hy hom nie meer op volspoed by die agterlyn aansluit om geleenthede vir sy blitse te skep nie.

Die Aussie-kaptein, Michael Hooper, in gesprek met die skeidsregter. Foto: Getty Images

Skuiwe wat nie aan die Bok-beginspan geslaag het nie, was die van Bongi Mbonambi op haker. Malcolm Marx se ingooi benodig terselfdertyd dringende aandag, maar hy hoort steeds in die beginspan.

Toegegee, Mbonambi se rugby het baie verbeter sedert ’n jaar gelede. Maar hy is nog nie op Marx se vlak nie.

Mbonambi het in die 35 minute wat hy op die veld was, ’n belangrike lynstaan gemis met die Bokke op die aanval en naby die Wallabies se doellyn.

Hy het later ’n groter blaps naby die Bokke se doelgebied gemaak om ’n bal reg oor die lynstaan te gooi wat op die nat speeloppervlak reg in Toomua se hande geskiet het om verspot maklik onder die pale oor te duik.

Voor dié ingooi het Kriel en Makazole Mapimpi uitstekend verdedig om die Wallaby-vleuel Jack Maddocks voor die hoekvlag uit te duik. Die momentum het ná daardie ingooi teruggeswaai in die Wallabies se guns.

Mbonambi was dalk nie alleen skuldig met daardie vrot gooi nie. Dit het gelyk of daar ’n misverstand tussen hom en sy kaptein, Siya Kolisi, was.

Dit was net ná die toets nog onseker of Mbonambi kort ná die ingooi deur Erasmus vervang is en of hy beseer is. Eersgenoemde blyk die groter moontlikheid te wees.

Bygesê, Marx het self op sy span se kwartgebied ’n ingooi bo-oor sy ranker gegooi, wat sy span vir lank onder groot druk geplaas het. Marx se ingooiwerk moet sonder twyfel verbeter as hy as die beste haker ter wêreld beskou wil word.

Iets skort steeds met die balans van die Bokke se lostrio in Duane Vermeulen se afwesigheid. Hulle het weer Saterdag in die losstryd teen Michael Hooper-hulle gesukkel.

’n Klein positiewe was dat die Bokke Saterdag vinniger uit die wegspringblokke was, maar dit was ongelukkig hul swakste tweede helfte van die jaar gewees. ’n Belangrike rede daarvoor was waarskynlik die skuiwe wat aangebring is met Kitshoff en Pieter-Steph du Toit wat in die beginspan was.

Erasmus sal kopkrap oor wat hy nou moet doen om die balans voor Saterdag se toets in Wellington te herstel. Vat hy nie raak met sy spankeuses nie, wag ’n ramp op die Bokke in Wellington.

* Puntemakers:

Wallabies 23 (17). Drieë: Michael Hooper, Matt Toomua. Doelskoppe: Matt Toomua (2). Strafdoel: Reece Hodge, Toomua (2).

Springbokke 18 (18). Drieë: Bongi Mbonambi, Makazole Mapimpi. Doelskop: Elton Jantjies. Strafdoele: Jantjies (2).

Rugbykampioenskap: Bepalings

Rugbykampioenskap: Puntelys

Rugbykampioenskap: Uitslae

Meer oor:  Bokke  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Brisbane  |  Wallabies  |  Australië  |  Michael Cheika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.