Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
KYK: Bokke verower harte in Japan

In 2007 het Franse rugbyliefhebbers hulle agter die Springbokke geskaar toe hulle in Parys in die Wêreldbeker (WB)-eindstryd teen Engeland gespeel het.

Siya Kolisi, die Springbok-kaptein, het ’n ondertekende trui aan Hirojoeki Mori, burgemeester van Kagosjima, oorhandig. Foto: Getty Images

Die Springbokke hoop so ook dat baie Japannese ondersteuners hulle sal aanmoedig wanneer hulle volgende naweek in die openingsnaweek van die WB-toernooi in Jokohama teen die All Blacks te staan kom, sê Rassie Erasmus, die Bok-breier.

Erasmus en sy kaptein, Siya Kolisi, het Maandag in Kagosjima by dié stad se burgemeester, Hirojoeki Mori, besoek afgelê.

Kagosjima is aan die suidwestelike punt van die land geleë.

Die besoekende span is van plan om dié week na die gemeenskap uit te reik en Japannese se hart te wen met die oog op die toernooi.

“Die mense van Kagosjima is ongelooflik sover. Hulle is baie warm en behulpsaam. Ons het gister (Sondag) so ’n bietjie van die stad gesien en dit is lekker om hier te wees,” sê Kolisi.

“Die mense moet asseblief ons oefeninge kom bywoon. Ons gaan ook skole besoek en na die gemeenskap uitreik.”

Erasmus sê hy en Charles Wessels (die span se bedryfshoof) het destyds ’n hele paar plekke in Japan besoek om die ideale stad vir die week se voorbereiding te kry.

“Ons het op Kagosjima besluit en ons is sover nie spyt daaroor nie. Die hotel waarin ons bly en die gimnasium is van die beste en dit help met ons voorbereiding. Ons wil ook die stad verken en die inwoners ontmoet.”

’n Gesin van Kagosjima het Maandag die Springbokke se oefening bygewoon en is met twee van die span se T-hemde as aandenkings beloon. Foto: Gallo Images

Kagosjima is bekend as een van die warmer stede in Japan en Erasmus sê hulle verkies dit so. Hoe warmer, hoe beter.

“Dit help om die spelers te akklimatiseer. Ons glo dit sal help dat ons al aan die toestande gewoond is teen die tyd dat die toernooi begin.”

Kolisi is gevra of Japan se span van 2015, wat ’n skokoorwinning oor Suid-Afrika in die WB-toernooi behaal het, beter was as die een teen wie die Bokke Vrydag met 41-7 gewen het.

“Nee, Japan se span is nou beter. Kyk na hul onlangse uitslae. Die span het sedert 2015 verbeter, geen twyfel daaroor nie.”

Twee van die Bokke se oefensessies is oop vir die publiek.

Meer oor:  Bokke  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Japan  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.