Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke: Warrick glo hy kan soos Willie maak

Warrick Gelant glo hy en Willie le Roux is soortgelyke spelers en dat hy ook, soos Le Roux, as ’n tweede losskakel by sy agterlyn kan aansluit en as spelskepper optree.

Gelant was vroeër vanjaar Le Roux se adjudant in die reeks teen Engeland, maar ’n skouerbesering het dié belowende jong Bul vir drie maande langs die kantlyn gehou.

Warrick Gelant in Junie teen Engeland in aksie. Foto: Gallo Images

Hy sê die invloed wat Le Roux in die Springbok-kleedkamer op die jong spelers het, is van onskatbare waarde.

“Ek was in Junie saam met Willie by die Bokke. Hy is uiteraard baie ervare, hy neem baie verantwoordelikheid op die veld,” sê Gelant (23).

“Dit is sy leierskap wat uitstaan. Almal weet hoe ’n vaardige speler hy is, maar hy help die jong spelers baie met hul spel. Hy hou almal rondom hom kalm.”

Gelant glo hy kan ’n soortgelyke aanvallende wapen as Le Roux wees.

“Ek glo ek kan ook die rol vertolk wat hy doen, om as ’n tweede losskakel by die lyn aan te sluit.”

Gelant het die hele Rugbykampioenskapsreeks misgeloop nadat hy ’n skoueroperasie moes ondergaan. Hy het Maandag weer saam met die Bulle begin oefen.

Dit gaan eers oor die Bulle. Jy sal vir jouself ’n gat grawe as jy nou al begin dink aan die Wêreldbeker-toernooi.
Warrick Gelant

Die Rugbykampioenskap sou die ideale geleentheid vir Gelant gewees het om vir Rassie Erasmus, die Bok-breier, te bewys hy moet Le Roux se adjudant by volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan wees. Tog het Gelant nie in sak en as gesit oor sy besering nie.

“Ek is ’n baie realistiese mens. Ek het besef my skouer moes regkom, ek het besef dit was die situasie waarin ek myself bevind het.

“Ek het geweet ek gaan die Rugbykampioenskap en die jaareindtoer misloop, maar ek het ook geweet ek sal ’n goeie voorseisoen kan hê vir die eerste keer in my kort beroepsloopbaan.

“Dít het my opgewonde gemaak, want dit stel my in staat om hard te veg om ’n eerstekeuse-speler by die Bulle te wees.”

Volgende jaar se Superrugby-seisoen gaan baie belangrik vir dié dartelkwartel wees as hy homself as Le Roux se adjudant in Japan wil vestig.

Hy plaas egter nie druk op homself nie.

“Vir my gaan dit oor die proses. Ek wil myself verbeter en die span help om goed te vaar,” sê Gelant.

“Dit gaan eers oor die Bulle. Jy sal vir jouself ’n gat grawe as jy nou al begin dink aan die Wêreldbeker-toernooi.”

Meer oor:  Bokke  |  Springbokke  |  Warrick Gelant  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.