Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke wil dié keer Italiaanse slagyster vermy

Italië het sedert verlede jaar se skoksege oor Suid-Afrika in Florence slegs een uit 11 van sy toetse gewen, maar die Springbok-afrigter, Allister Coetzee, het sy les hard genoeg in Florence geleer om nie Saterdag se toets in Padova vir proefnemings te wil gebruik nie.

Pieter-Steph du Toit sal terug wees op steelkantflank vir die toets teen Italië. Foto: Gallo Images

Een van daardie lesse is dat jy in die vaste fasette die botoon móét voer teen die Italianers.

“Die vaste fasette is van kritieke belang. Italië het in sy wedstryd teen Argentinië baie goed geskrum. Dit is waarom daardie wedstryd vir ’n uur in die weegskaal was,” sê Coetzee.

“Ons moet hul lynstane ontwrig en goed verdedig. Laas jaar het ook gewys dat jy jou geleenthede moet benut en die wedstryd sterk moet begin.”

Dat Coetzee mededinging by die lynstane beklemtoon, is geen verrassing nie, want Italië het die Bokke verlede jaar juis met rolmaalbewegings seergemaak.

’n Manier om die lynstane te vermy, is natuurlik ook deur goeie dissipline sodat die bal nie uitgeskop word nie.

“Ons het gewerk daaraan om by skeidsregters te kan aanpas en hierdie week is Romain Poite in beheer. Dis belangrik vir die spelers om aan te hou om aan hul dissipline te werk. Ek was tevrede met verlede naweek, maar ons het nietemin in die tweede helfte ’n paar onnodige strafskoppe afgestaan,” sê Coetzee.

“Ons moet berekend en akkuraat speel. Italië se rolmaalbewegings is baie goed, maar hulle kan daardie taktiek slegs van lynstane af inspan.”

Die taktiek met Beast en Kitsie werk baie goed.
Allister Coetzee

Met akkuraatheid in die vaste fasette van groot belang, is dit onwaarskynlik dat Coetzee voorlangs meer as gedwonge veranderings gaan maak.

Malcolm Marx, wat met ’n skouerbesering sukkel, sal waarskynlik deur Bongi Mbonambi op haker vervang word. Pieter-Steph du Toit het ook van sy harsingskudding herstel en sal waarskynlik as steelkantflank begin in die plek van Siya Kolisi, wat terug Suid-Afrika toe is vir die geboorte van sy tweede kind.

Tendai Mtawarira op die aanval teen Frankryk. Volgens Allister Coetzee speel hy tans die beste rugby van sy loopbaan. Foto: Gallo Images

Met Du Toit en Duane Vermeulen in die lostrio sal Suid-Afrika benewens die slotpaar twee verdere puik opsies in die lynstane hê.

Dán is die slot Franco Mostert ook nog op die plaasvervangersbank.

Nóg ’n groot troef van die plaasvervangersbank af is die loskopstut Steven Kitshoff, maar dit lyk nie of Coetzee hom bo Tendai Mtawarira sal kies nie.

“Die taktiek met Beast en Kitsie werk baie goed. Steven word opgestuur en dra die bal baie goed. Op sy beurt speel Beast (Mtawarira) die beste rugby van sy lewe. Dis ’n goeie kombinasie,” sê Coetzee.

“Dieselfde geld wanneer ons vir Franco in Lood (De Jager) se plek opstuur. Dit help om die intensiteit te behou. Jy moet egter nie onnodig veranderings maak nie.”

Coetzee het bygevoeg dis “puik” om vir Du Toit terug te hê.

“Hy was voor die harsingskudding wat hy opgedoen het uitstekend. Die idee is om hierdie naweek ons sterkste moontlike span te kies. Wat hierdie span nou nodig het, is om momentum te bou,” sê Coetzee.

Teen Wallis aanstaande week sal daar vir spelers aan die buitewyke van die 23-tal geleenthede wees, met die losvoorspelers Duane Vermeulen en Francois Louw, en die losskakel Elton Jantjies wat weens hul klubverpligtinge nie beskikbaar gaan wees vir ’n wedstryd buite Wêreldrugby se toetsvenster nie.

Meer oor:  Bokke  |  Allister Coetzee  |  Italië  |  Springbokke  |  Boktoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.