Die Springbokke wil nie kommentaar lewer oor wat individue op sosiale media kwytraak nie.
Dít is die reaksie uit die Bok-kamp op die storm in die kleine op Twitter oor ’n skermgreep wat wys hoe Aled Walters, die Bokke se fiksheidskundige, sy gehoorstuk vir Duane Vermeulen gee in die tweede helfte van Saterdag se toets teen Wallis in Cardiff.
Thando Manana, ’n voormalige Springbok-flank, het die skermgreep op Twitter geplaas met die woorde: Dit is ’n feit: Duane Vermeulen sal die Springbokke in 2019 aanvoer.
Daar word gevra waarom Rassie Erasmus, die hoofafrigter, nie sy boodskap of opdrag aan die kaptein, Siya Kolisi, oorgedra het nie.
Hiermee word daarop gesinspeel dat Kolisi net simbolies die kaptein is, terwyl ’n ander volgeling van Manana sê dat Kolisi se kapteinskap deur dié tipe ding ondermyn word.
“Ons reageer nie op menings op sosiale media nie. Deur dit te doen, sal ons dit ’n storie maak, wat dit in dié geval nie verdien om te wees nie,” het die Bokke se woordvoerder, Rayaan Adriaanse, in reaksie gesê.
Kolisi was ook die vorige naweek in die nuus toe hy uitgewys is vir ’n kopstamp op ’n Skotse senter in die toets op Murrayfield in Edinburg.
Hy het uiteindelik ’n skorsing vrygespring en kon in die laaste toets op die span se jaareindtoer teen die Drake speel.

Siya Kolisi, die Bok-kaptein, en Duane Vermeulen, wat voor die aanvang van die seisoen deur baie kenners as ’n gunsteling beskou is om die Bokke te lei. Foto: Getty Images
Wallis het met 20-11 geseëvier en sy vierde sege agtereenvolgens oor Suid-Afrika behaal.
Twee voormalige Springbokke, Owen Nkumane en Breyton Paulse, het ná die toets teen Skotland in die SuperSport-ateljee ook gevra waarom Kolisi so gereeld in toetse vervang word en dat dít nie met ander spanne se kapteins gebeur nie.
Victor Matfield, die gewese Bok-slot wat die wedstryd saam met hulle ontleed het, het toe daarop gewys dat John Smit in baie toetse vervang is deur Bismarck du Plessis en dat hy (Matfield) dan die kapteinskap oorgeneem het.
Hy het gesê dis nie ’n vreemde verskynsel nie en dat dit belangrik is dat daar ’n sterk leierskern in die span is. Volgens Matfield het hy en Fourie du Preez of Jean de Villiers dikwels besluite op die veld geneem, al was John Smit die kaptein.